Nuusflitse – Januarie 2020 - VL neem sterk standpunt in teen OSV; sperdatum vir insette verleng

VL neem sterk standpunt in teen OSV; sperdatum vir insette verleng

Vrystaat Landbou (VL) het sterk standpunt ingeneem teen die voorgestelde grondwetwysiging van Artikel 25 deur insette tot Agri SA se voorlegging te maak én ook sy eie inset ingedien.

Intussen is die oorspronklike sperdatum van 31 Januarie 2020 tot einde Februarie 2020 verleng. Die wysiging van Artikel 25 kan onteiening sonder vergoeding (OSV) moontlik maak.

Die tydperk om kommentaar te lewer op die wysiging is op 30 Januarie 2020 verleng. Die parlementêre ad hoc-komitee, wat die wysigingsvoorstel saamstel, het landsburgers ’n ekstra maand gegee om skriftelike voorleggings te maak. Daar is vroeër uit verskeie oorde versoek dat die sperdatum verleng moet word.

Volgens dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van VL, wil VL sy lede aanmoedig om aan die proses deel te neem en hul stem te laat tel. Dit kan gedoen word op Dear South Africa se webtuiste by https://dearsouthafrica.co.za/constitution-eighteenth-amendment-bill/ of deur ’n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. te stuur.

Armour sê VL het insette gelewer tot Agri SA se in-diepte dokument oor die “moontlike negatiewe gevolge indien die grondwetwysiging toegelaat word” om OSV toe te laat. Sy organisasie se eie inset bied ook verdere ondersteuning tot Agri SA se dokument.

“Ons lede is ook verwys na Dear South Africa se webtuiste waar individue vinnig en maklik hulle posisie teen die grondwetwysiging kon aandui,” sê hy. “Laastens is lyste ook na landbouverenigings en landboubesighede versprei waar lede hul posisie op skrif kon aandui.”

Openbare verhore deur die parlementêre ad hoc-komitee begin in Februarie 2020.

 

Klik hier vir Agri SA se kommentaar soos ingedien.

Klik hier vir Aanhangsel A by Agri SA se kommentaar.

Klik hier vir Aanhangsel B by Agri SA se kommentaar.

Klik hier vir Aanhangsel C by Agri SA se kommentaar.

Klik hier vir Aanhangsel D by Agri SA se kommentaar.

 

ANC se uitlatings oor vergoeding deur uitvoerende gesag

VL neem ook aanstoot teen die ANC se standpunt oor die vasstelling van vergoeding deur die uitvoerende gesag en is in ooreenstemming met Agri SA se standpunt in ’n verklaring daaroor.

VL en Agri SA sal verdere verwikkelinge in hierdie verband fyn dophou en lede op hoogte hou.

Klik hier vir Agri SA se verklaring oor die ANC se uitlatings.

 

Insette tot beleide

Ongeag OSV en die moontlike wysiging van die grondwet, word daar steeds hard gewerk aan werkbare planne om landbou ontwikkeling en transformasie aan te help.

Op hierdie vlak lewer VL ook insette, saam met ander provinsies, onder leiding van Agri SA se regspan tot sekere beleide. Twee hiervan is die konsepkommentaar op die Beleid op Keuring van Begunstigdes en Grondtoekkening, waarvan die sperdatum 3 Maart 2020 is, en die Konsep Nasionale Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk, waarvan die sperdatum 19 Maart 2020 is.

Klik hier vir die konsep op die Beleid op Keuring van Begunstigdes en Grondtoekkening.

Klik hier vir ’n konsep Nasionale Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk.

 

Verder is ’n NEDLAC-proses ook aan die gang waarby Agbiz en Agri SA betrokke is om ’n sogenaamde “Masterplan for Agriculture and Agro-processing Value Chain” op te stel.

“Pres Ramaphosa het die posisie van meesterplanne by BUSA se Business Economic Indaba 2020 op 14 Januarie 2020 beklemtoon,” het Dr John Purchase, Uitvoerende Hoof van Agbiz, gesê.