Nuusflitse – Januarie 2020 - VL verwelkom nuwe Vrystaatse polisiekommissaris

VL verwelkom nuwe Vrystaatse polisiekommissaris

’n Afvaardiging van Vrystaat Landbou (VL) het ’n verwelkomingsbesoek aan die nuwe provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Vrystaat, Lt. genl. Baile Motswenyane, afgelê.

Tydens die besoek, onder leiding van die President van VL, Francois Wilken, en Vise-president van VL, Tommie Esterhuyse, op 21 Januarie 2020 is verskeie veiligheidsaspekte aangespreek. Wilken-hulle is vergesel deur lede van VL se Landelike Veiligheidskomitee en hulle het ook met Motswenyane se assistant provinsiale kommissaris, Genl. maj. Solly Lesia, ontmoet.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, het die gesprek onder meer oor die Landelike Beveililgingstrategie, die toekenning van voertuie aan Landelike Veiligheidkoördineerders (wat ’n prioriteit by alle polisiestasies is) en dat dit daarvoor gebruik moet word gehandel.

“Die oorgrensarea tussen Suid-Afrika en Lesotho, beter samewerking en koördinering tussen die SAPD en Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om misdade aan te spreek, die werwing van reserviste en moontlike gedesentraliseerde vuurwapenopleiding was ook op die agenda,” sê sy.

Verder is die kapasiteit in landelike gebiede, met spesifieke verwysing na Veediefstal-eenhede in die oorgrensarea, en die daarstel van kommunikasiekanale en protokol waar ernstige probleme en uitdagings ervaar word ook bespreek.

Buys sê die oudit oor gebreke en tekortkominge van polisiëring in landelike gebiede sal ook aan die Prioriteitskomitee voorgelê word, sodat die nodige intervensies vanaf die polisie van stapel gestuur kan word om dit aan te spreek.