Nuusflitse – Januarie 2020 - Analise toon November, Desember het meeste VS plaasaanvalle

Analise toon November, Desember het meeste VS plaasaanvalle

Byna ’n derde van die plaasaanvalle wat die laaste nege maande van 2019 in die Vrystaat plaasgevind het, het in November en Desember voorgekom. Meer as 30% van die 43 plaasaanvalle (wat agt moorde insluit) vanaf 1 April 2019 tot 31 Desember 2019 het in hierdie twee maande plaasgevind.

Verder het meeste van die aanvalle en moorde in die provinsie tydens dié spesifieke tydperk in die aand (67.44% tussen 18:00 tot 06:00) en oor naweke (60.46% vanaf Vrydae tot Sondae) voorgekom.

Dit is inligting volgens ’n analise wat deur die Vrystaat Landbou (VL) VKB Veiligheidslessenaar oor aanvalle en moorde vanaf 1 April 2019 tot 31 Desember 2019 gedoen is. Volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, word “alle plaasaanvalle en moorde met erns deur die landbousektor, en veral VL, bejeen”. “Dit alles binne die Landelike Beveiligingtrategie (LBS), in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander rolspelers, binne die kriminele regstelsel.”

 

Toename in aanvalle en moorde

Ander vername statistieke is dat daar ’n toename van meer as 30% in plaasaanvalle en 50% in plaasmoorde in dié nege maande was wanneer 2019 met 2018 vergelyk word.

Volgens Buys toon die analise ook dat die landbougemeenskappe wat tydens hierdie tydperk verlede jaar die meeste deur aanvalle geraak is, Bloemspruit (kleinhoewes), Bothaville, Clocolan en Odendaalsrus was. Verder het agt dorpe langs of naby die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho, altesaam 11 aanvalle in 9 maande beleef.

Die analise toon dat die arrestasiesyfer vir 2019 se plaasaanvalle en moorde gedurende hierdie typwerk 27.91% was. Die betrokkenheid van buitelandse burgers is moontlik in 13 (30.23%) uit die 43 aanvalle en dit gebeur grotendeels langs die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. Volgens Buys was daar in vier insidente werkers of eks-werkers betrokke by van die aanvalle.

Soveel aanvalle in provinsie voorkom

Buys sê in dié nege maande in 2019 is agt Vrystaatse plaasaanvalle voorkom of gekeer. “Verskeie faktore lei tot die daarstel van ’n proaktiewe misdaadomgewing,” sê sy. Daaronder tel die skakeling of deurgee van inligting, vestiging van kommunikasienetwerke en vertrouensverhoudings tussen Suid-Afrikaanse Polisiediens, bure en werkers. “Verder is die versterking van verhoudinge, uitbreidinig van inligtingsnetwerke (werkers en bewoners op plase), installering van tegnologiese hulpmiddels (kameras, alarms), betrokkenheid van landbouers in georganiseerde landbou en die LBS se strukture, bemagting van kennis ens ook belangrik.”

Verder is slegs twee produsente (uit ’n totaal van 43 plaasaanvalle; 4.7%) aangeval wat lede van georganiseerde landbou of VL is. Volgens Buys kan dit wees omdat lede meer ingelig is en bewus gemaak word van veiligheid as landbouers wat nie by landboustrukture ingeskakel is nie. Lede van georganiseerde landbou is byvoorbeeld deel van veiligheidsgroepe op WhatsApp, ingeskakel by strukture en die LBS. 

 

Verdere inligting (analise vanaf 1 April 2019 tot 31 Desember 2019):

  • 14 produsente, drie opkomende landbouers, 17 werkers en 9 mense woonagtig op plase/kleinhoewes is aangeval.
  • Van die moorde, was een op ’n produsent, geen opkomende landbouers, drie op werkers en vier op mense wat op ’n plaas/kleinhoewe woon.
  • 37 van die plaasaanvalle/moorde was op plase, terwyl ses op kleinhoewes plaasgevind het.
  • Geen kinders was slagoffers van plaasaanvalle nie.
  • In meer as 72% van aanvalle is enkele individue (slagoffers) aangeval – die oudste slagoffer was 81 jaar oud.
  • Die getal aanvallers per voorval wissel van twee tot sewe aanvallers (74.88%), met ’n gemiddeld van drie aanvallers per insident.
  • In 10 aanvalle is niks gesteel of geroof of beserings opgedoen nie. Die verrassingselement van aanvallers is omgeskakel in vinnige optrede deur die slagoffers waarop aanvallers gevlug het.
  • Selfone, geld en vuurwapens word in meer as 50% van aanvalle geteiken.
  • In 60.47% van aanvalle word vuurwapens deur aanvallers gebruik.
  • In 30.23% word voertuie deur aanvallers gebruik om na en van aanvalstonele te beweeg. In 16.27% word die slagoffer se voertuig ook gebuit.
  • In 32.55% van plaasaanvalle word slagoffers in hul huise oorval – gewoonlik in nagtelike ure met geforseerde toegang tot wonings.
  • Net so word 30.23% van aanvalle buite wonings gepleeg, veral wanneer slagoffers by wonings en/of erwe arriveer of by hul plaashekke (9.3%).
  • In amper 10% van plaasaanvalle (9.3%) word valse voorwendsels deur aanvallers gebruik om naby slagoffers te kom, byvoorbeeld om vee of melk te koop of hulself voor te doen as polisiebeamptes.
  • In 29 aanvalle (67.44%) het slagoffers ernstige beserings opgedoen of is dood. 13 slagoffers is gekiet, vier met ’n mes gesteek en 12 ernstig aangerand. In 11 aanvalle is minder ernstige beserings opgedoen, terwyl in 10 aanvalle geen beserings opgedoen is nie.