Nuusflitse – Januarie 2020 - Kyk uit vir dieseldiefstal uit Transnet-pyplyn

Kyk uit vir dieseldiefstal uit Transnet-pyplyn

Voorvalle van dieseldiefstal uit ’n Transnet-pyplyn het die laaste twee maande in die Vrystaat begin kop uitsteek en daarom moet landbouers waaksaam wees en dit dadelik aanmeld.

Vrystaat Landbou (VL) het met sorg verneem dit word ’n tendens dat diesel uit dié pyplyn, wat deur vier provinsies loop, gesteel word. Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is vyf insidente in die provinsie oor Desember 2019 en Januarie 2020 aangemeld waar diesel met tenkwa’s deur georganiseerde sindikate by die kleppe van die pyplyn gesteel word. “Dit het onder meer in Kroonstad, Vrede, Warden, Verkykerskop en Parys gebeur,” sê sy.

Die misdadigers verwyder die betonblok wat bo die hoëdruk-klep geleë is en tap die diesel in tenkwa’s. So ’n oefening, waar ’n tenkwa met diesel volgemaak word, kan binne 20 minute geskiet.

Volgens Buys is arrestasies in die gebiede van Kroonstad en Vrede uitgevoer en wil dit voorkom of misdadigers in groepe van tot tien werksaam en ook gewapen is.

Sy sê dit hou “’n groot veiligheidsrisiko vir landbouers in”. Gelekte diesel kan aan die brand slaan, dit kan tot brande lei én tot die besoedeling van waterbronne.

VL versoek landbouers dus wanneer hulle sulke aktiwiteite opmerk, hulle dit met hul Landelike Veiligheid koördineerders van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en hul Veiligheidsverteenwoordigers moet opneem én om nie die sogenaamde misdadigers te konfronteer nie.

Buys sê VL versoek ook die Prioriteitskomitee dat ’n toegewyde taakspan aangestel word om hierdie soort diefstalle, wat op ’n baie georganiseerde wyse plaasvind, te ondersoek.