Digicoms

Nuusflits - Julie 2020 - Onwettige jag met honde

Onwettige jag met honde

Onwettige jag met honde op plase bly steeds ‘n groot kopseer vir landbou.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), noem dat die organisasie onlangs ‘n opname onder lede gedoen het waar bevind is dat 83,86% van landbouers al dié tipe misdaad op hul plase ondervind het. Sommige landbouers (46,25%) ervaar dit selfs weekliks.

Misdaad patroon:  Ongeveer die helfte van die landbouers het genoem dat jagters gedurende nagtelike ure op hul plase opdaag, terwyl 46.73% van jagte ook gedurende die dag plaasvind.

Naweke blyk die gekose tyd vir dié misdaad te wees (84.74%), maar Buys noem dat jagte nie beperk is tot enige maand van die jaar nie en dat dit soms gedurende skoolvakansies en volmaan-periodes meer gereeld plaasvind.

Statistieke: Gedurende die inperkingsperiode (26 Maart tot 31 Mei 2020) het 433 landbouers aangedui dat hulle oor die 768 insidente op hul plase ondervind het, dus tussen 1 tot 2 insidente per plaas. Verder het 410 landbouers aanedui dat hul meer as 1 650 insidente in ‘n jaar ondervind op hul plase, d.w.s. so 4 insidente per jaar.

Modus operandi: Landbouers ondervind dat groepe, bestaande uit 3 tot 10 persone met honde opdaag om te jag. In die meeste gevalle het jagters per voet opgedaag. Daar was wel minimale gevalle waar plase ver van dorpsareas geleë is, dat voertuie die jagters na en van die plase vervoer het.

Oortreders: Buys noem dat dit uitdagend is om oortreders aan die pen te laat ry. In talle gevalle was minderjariges by die misdaad betrokke en word slegs in hul ouers se sorg vrygelaat, sonder enige gevolge.  

Indien landbouers die oortreders vind en konfronteer, ontaard dit in ‘n woordewisseling of hardloop ontreders weg.

Verliese wat landbouers lei: Die opname het getoon dat 317 landbouers gesamentlik tussen R736 000 en R1.45 miljoen se verliese jaarliks gelei het.

Wat moet Strafregstelsel doen: Die meerderheid landbouers is van mening dat die polisie nie suksesvol is om die tipe misdaad aan te spreek nie en voel ook dat daar nie werklik enige misdaadvoorkomgs-operasies op dié tipe misdaad beplan word.

Klagtes wat met onwettige jag gepaardgaan is gewoonlik betreding, kwaadwillige saakbeskadiging, veediefstal en die Wet op Dierebeskerming.

 

Die pad vorentoe

Buys noem dat georganiseerde landbou verskeie aanbevelings gemaak het rakende die hantering van die misdaadprobleem in landelike gebiede, in ‘n poging om die probleem hok te slaan.    

Korrekte toepassing van implementeringsriglyne deur die polisie, opening van ‘n dossier, konfiskering van voertuie betrokke by die misdaad en bewusmakingsveldtogte is net enkele van die voorstelle wat geopper is.