Nuusflitse Augustus 2015 - ’n Landbouer se vasbarendheid om kanker te wen

’n Landbouer se vasbarendheid om kanker te wen

’n Bekende in Suid-Afrika se landboubedryf, Schalk Pienaar, se lewe het onlangs onherroepelik verander toe hy met prostaatkanker gediagnoseer is. Hy deel graag sy verhaal met ons, en wil mede-landbouers aanmoedig om erns te maak met hul gesondheid:

Die afgelope 15 jaar het ek jaarliks in Oktober of November die internis en kardioloog besoek, asook 'n dermatoloog en uroloog. Die laasgenoemde besoeke het ek onderneem omdat ek tydig enige simptome of aanduidings van vel- en prostaat kanker deur spesialiste wou laat bepaal. Sedert ek die ouderdom van 60 bereik het, het ek die uroloog elke ses maande besoek omrede ek die "ou mans moeilikheid" vroegtydig wou vasvat. Daar is voldoende getuienis en inligting beskikbaar wat lui dat hoe vroeër kanker, en veral prostaat kanker, opgespoor word, hoe groter is die kans om dit met groot sukses te behandel. En ja, selfs te genees.

In my geval was ek in die herfs van 2014 by die uroloog en hy was tevrede met my prostaat se status. Vir allerhande grondige redes mis ek toe die Oktober of November besoek aan die "loodgieter". Oor die Feestyd begin ek onrustig voel omdat ek die besoek gemis het. Ek kry toe ’n afspraak in Februarie vanjaar en besoek die uroloog waartydens ek deeglik ondersoek en getoets word. Die uroloog het my deeglik ondersoek in sy spreekkamer deur die bekende PSA toets (’n bloedtoets), ’n sonar skandering asook die inwendige ondersoek (ja, die sogenaamde "tong tippie toets"). Na ’n dag of wat roep die uroloog my terug omdat al drie die toetse gedui het op simptome van prostaatkanker. Verdere toetse volg wat net bevestig het dat ek prostaatkanker onder lede het, en dat dit ook versprei het.

Ek is dadelik na ’n onkoloog verwys wat van toe af "oorgeneem" het as primêre behandelende geneesheer. Die verspreiding van die kanker was sodanig dat dit behandelings soos die verwydering van die prostaat, deur brachi terapie (die inplanting van radioaktiewe "draadjies" in die prostaat), doelloos gemaak het. Hormoonbehandeling is begin deur die inplant van ’n hormoon onder my maagvel en die toedien van ’n beenversterker. Met die verspreiding van prostaatkanker vestig die kankerselle hulleself op jou skelet, en dit is dus nodig om die skelet te versterk om te verhoed dat die kankerselle been aanval.

Radio terapie, beter bekend as bestraling, vir 25 sessies is ook gedoen en dit is aan die begin van Julie afgehandel. Verdere toetse word later in Julie gedoen om te bepaal tot watter mate die verskillende behandelings suksesvol was om die produksie van testosteroon deur die prostaat te stop. Testosteroon is superbrandstof vir prostaat kankerselle. Indien die pogings suksesvol was, sal die hormoonbehandeling en indien nodig verdere simptomatiese behandeling volg. Dit mag chemo therapie en nog bestraling insluit.

Ek wens niemand dit toe om meegedeel te word dat hy of sy kanker het nie. Vir die pasiënt self is dit 'n traumatiese skok. Dit is egter veel meer van ’n nagmerrie vir jou vrou, kinders, familie en vriende. Om die tyding uit die dokter se mond te hoor, is onbeskryflik: “Ek is baie jammer meneer, maar jy het kanker wat versprei het. Ons noem dit fase 4 kanker. Ons gaan alles doen om jou te help, maar u moet besef dat u uiteindelik van kanker gaan sterf.” Net so. Of dit insink of nie, jy moet self die tyding aan jou gesin, familie en vriende oordra. Dit is verskriklik.

Gaan ek my kleinkind wat oor 6 maande gebore gaan word, ooit sien. Gaan ek die kleintjies sien grootword of nie. Wat van al die drome en planne om nog dit en dat te doen. Wat van ons vakansieplanne en drome. Skielik raak baie dinge totaal onbelangrik en ander wit warm prioriteite. Soos boedel en testament sake ........... En die omgeegroep se gesprek oor verassing of begrawe word, is nou relevant. Want sien, die gewone menslike gesprekke hieroor gaan oor kostes en omgewingsvriendelike goed en begraafplase wat verniel word. Maar wat is ons Here se wil vir ons hier omtrent? Die dominee struikel om ’n uitleg van die Woord hieroor te gee. Oor dit en ander sake wil ek nou "reg" optree. Daar is nie meer opsies en tyd om te wag en kyk, of eksperimenteer nie.

My aard is om alles moontlik van ’n onderwerp te wete te kom. So het ek begin Google en oplees. Ek het enige iets wat ek in die hande kon kry, verslind. Aan die lippe gehang van ander kankerlyers. Wetenskaplike navorsingsresultate probeer ontsyfer. Probeer bepaal "hoeveel tyd het ek oor ........." Goed bedoelde boererate en allerhande advieste opgelees. Dieetkundiges geraadpleeg. Sekerlik nie 100% volledig nie, maar ek weet vandag baie meer as in Februarie. Glo my, jou kop draai naderhand.

Vandag kan ek die volgende onomwonde sterk aanbeveel omdat dit vrede, sielerus en rustigheid bring:

- Laat toets jou elke jaar by 'n hoog aangeskrewe mediese spesialis vir kanker en maak seker hy doen al drie toetse. Sesmaandelikse toetse is aan te beveel as jy oor 60 jaar is.

- Lees op oor 'n gesonde gebalanseerde dieet EN VOLG DIT. Vermy alle vorme van suiker en vet. Eet 'n vrug of twee per dag. Suiker en vet is petrol vir prostaatkanker selle.

- Oefen fisies ten minste drie keer per week fluks.

- As jy met kanker gediagnoseer word kry berading by professionele en geestelike beraders vir jou en jou gesin.

My plan om die onding in my te beveg is as volg:

 = Verootmoedig jou voor die Here. Bely jou opnuut voor Hom as jou Redder en Saligmaker. Maak die Here biddend deel van jou strategie en plan om die kanker ding te hanteer. Familie en vriende sal sorg dat jy op gebedslysies kom. Weet dat die Here dit hoor maar weet dat Hy in beheer is en dat Sy wil uiteindelik al is wat belangrik is.

 = Neem deel en onderwerp jou aan medici se behandeling, maar doen dit as deel van jou geloofsbenadering.

 = Volg 'n realistiese en sinvolle eetplan.

 = Doen gereelde fisiese oefening.

 = Mediteer ’n uur per dag.

 = Gee jou oor aan die liefdevolle versorging en ondersteuning van jou gesin, familie en vriende.

 = Ja, gebruik maar hier en daar ’n boereraat. Nie as alternatief vir die doktersbehandeling nie, maar aanvullend daartoe. As dit niks anders doen nie, dan laat dit verskaffers van die rate lekker voel.

Ek glo dat my "plan" hier uiteengesit die kanker ’n helse onaangename tyd in my lyf gaan laat beleef. Of die kanker gaan wen weet ek nie, maar dit gaan 'n verwoede stryd wees. Ongeag wat ookal, het ek my voorgeneem om steeds jubelend soos Habakuk van ouds hierdie pad met Hom wat my Vader en Redder is te loop. Hier op die ondermaanse, en/of daarna.

Groete

Schalk

 

Inligtingstukke soos verskaf deur Kansa, is op ons webtuiste beskikbaar: http://vrystaatlandbou.co.za/komitees/sosiaal-maatskaplik/artikels/623-n-landbouer-se-vasbarendheid-om-kanker-te-wen