Nuusflits Mei 2016 - Wildvang en wilddiefstal

Wildvang en wilddiefstal

Sedert 1 Mei 2016 is dit amptelik jagseisoen. Tydens ‘n Boerevereniging vergadering op 24 Mei 2016 te Edenville is die vergadering toegespreek deur Werner Boing van die Departement van Ekonomiese en Klein Sake Ontwikkeling, Toerisme & Omgewingsake. Interessante feite rondom wilddiefstal asook ander sake rondom die wildbedryf is met die vergadering gedeel.

Sy raad aan landbouers is dat indien u van voorneme is om wild te vang deur gebruik te maak van ’n helikopter, behoort u te verseker dat u bure kennis dra van u voornemens en dat die loods pertinent ingelig word oor die grense van die plaas/e waar die wild gevang gaan word. Goeie verhoudings met bure is al versuur as gevolg van die feit dat grense nie gerespekteer is nie.  

Die nodig permitte moet ook in plek wees soos indien dit statutêr vereis word. U kan ook in kontak kom met die departement of met u naaste Jagtersvereniging om navrae te doen rakende ’n pro-forma dokument vir die vervoer van wild wat op u plaas deur vriende/familie/kennisse gejag is.  Uiteraard kan ’n volledige bespreking van die verwante wetgewing nie hier gegee word nie en word u aangeraai om indien u twyfel met Boing te skakel. Dit is baie belangrik om kennis te dra dat enige persoon wat skuldig bevind word aan ‘n omgewingsverwante misdryf bv. diefstal van wild, ’n groot kans staan om al sy vuurwapens te verloor, wat beslaglegging en die opheffing van alle sodanige lisensies insluit.