Nuusflits Mei 2016 - VL vergader met LUR oor droogte en ekonomie

 

VL vergader met LUR oor droogte en ekonomie

Die hoofbestuur van Vrystaat Landbou (VL) het gedurende Mei 2016 met Oupa Khoabane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, vergader om verskeie kwessies te bespreek. Een van die belangrike sake van bespreking was die verspreiding van ramphulp aan veral vee produsente in die provinsie. Dit sal plaasvind in terme van die aansoeke vir hulp wat reeds op 15 November 2015 by landbou voorligtingsbeamptes ingehandig moes wees.

 

VL het die afgelope paar maande voortdurend druk toegepas op die staat oor die verspreiding van hulp, en die Departement van Landbou het VL verlede maand in kennis gestel oor hul voorneme om hulp te verskaf. VL wag egter nog op terugvoer van die departement oor die proses hierrondom en wanneer die verspreiding sal plaasvind.

Van die inligting wat die departement tot op hede oor dié hulp gekommunikeer het, sluit in dat bewys van ’n brandmerk sertifikaat en ID dokument ingedien moet word om die voer aan die landbouer toegeken te ontvang.

 

Die belangrikheid van die landboubedryf vir die provinsie se ekonomie, en die druk van die droogte op boerderye en gevolglik ook op plattelandse dorpe se ekonomieë, was ook onder bespreking. Khoabane het VL bedank vir hul insette en het die daarstel van ’n advieskomitee in die provinsie weer beklemtoon.