Nuusflits Mei 2016 - VL moedig boereverenigings aan om droogtevoer aansoeke deur te stuur

 

VL moedig boereverenigings aan om droogtevoer aansoeke deur te stuur 

Die eerste besendings voerpille wat Vrystaat Landbou (VL) vir ons lede aangekoop het, is reeds gedurende Mei by van ons boereverenigings afgelaai. Die pille is aangekoop met ’n bedrag van R1,5 miljoen wat VL van Agri SA en Senwes se Droogte Ramp Fonds ontvang het. Die vervoer van die pille sou deur ’n borg behartig word, maar weens logistieke uitdagings het die borg aangedui dat hulle nie langer hulle weg daarvoor oopsien nie.

Ander instansies het reeds aangedui dat hulle van die vervoer sal kan hanteer, en ons probeer die verspreiding so vinnig as moontlik bewerkstellig. Indien landbou verenigings eie reëlings wil maak om die pille by Viljoenskroon vir hulle lede te gaan haal skakel asb. met Cynthia Troost (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 051 4444 609) om die nodige reëlings te tref.

Indien landbou verenigings voel hulle het nie ‘n dringende nood nie en hulle wil moontlik die pille aan ander landbou verenigings in groter nood skenk, stel asb ook vir Cynthia in kennis. Dankie vir die wat dit reeds aangedui het.

Intussen gaan VL se aksies om droogtehulp vir landbou verenigings volgens aansoeke te fasiliteer, deurlopend voort. Ons moedig weer verenigings aan om enige aansoeke elke week teen Woensdag 12:00 aan die kantoor te stuur.  Die nodige aansoekvorms is by elke boerevereniging beskikbaar, en die landbouer se aansoek moet deur sy vereniging aan VL deurgegee word.

Die proses

’n Baie deeglike en deursigtige proses, wat behoorlike rekordhouding insluit, moet gevolg word om ons in staat te stel om deurlopend rolspelers te nader vir hulp met fondse, voer, water en humanitêre hulp. VL se Rampfonds, asook die fondse wat ons van Agri SA se Droogtehulpfonds ontvang, word baie streng en deeglik bestuur. 

Die aansoek moet dan deur VL se strukture goedgekeur word, waarna voer gevind moet word en reëlings getref word rondom fondse vir die vervoer daarvan. VL is voortdurend in kommunikasie met alle landbouverenigings om hulle te versoek om enige moontlike aansoeke so spoedig moontlik aan ons deur te gee.  “VL Landbouvereniging opname van behoeftes vir voer benodig” vorms moet asb aan die kantoor gestuur word. Die vorms moet ingevul word volgens die “Riglyne vir Landbouverenigings ten opsigte van aansoek vir droogtehulp subsidiëring” vorm.

Ons wil graag ons lede net weer herinner aan die dokumentasie vir die Land Bank se Veevermindering Skema wat hier op ons webtuiste beskikbaar is. Dit is onder Rampe & Noodhulp (dokumente) op ons webtuiste beskikbaar. ONTHOU, jy het jou lidnommer nodig as gebruikernaam en wagwoord om die dokumente te kan lees.

Neem asb ook kennis van die volgende belangrike kennisgewing: 

Mieliereste bale beskikbaar by Luckhoff teen R114 per baal

'n Dringende versoek van besproeiings landbouers om 'n aanduiding te gee oor mieliereste behoeftes insake landbouers wat deur die droogte ge-affekteer word en bereidwillig is om op hul eie koste bale van 1,2m @ R114 (BTW ingesluit) in die Luckhoff area af te haal, om Vrystaat Landbou teen Woensdag 1 Junie 2016 om 12:00 in kennis te stel, sodat ons die besproeiers in kennis kan stel. Andersins sal hulle die mieliereste in die lande inwerk of brand.