Nuusflits November 2016 - Eskom: Kwessies met toegang tot plase

Eskom: Kwessies met toegang tot plase

Eskom het ’n versoek aan landbouers gerig om hulle personeel wat probleme op plaaslyne moet herstel, asb op hulle plase toe te laat. Dit volg na verskeie insidente waar Eskom tegnici die laaste paar maande nie op plase toegelaat is om probleme wat aangemeld is, te herstel nie.

Twee voorvalle waar daar glo op tegnici geskiet is, is ook onder Vrystaat Landbou (VL) se aandag gebring. Tydens die een voorval het die tegnikus na 23h00 die aand by ’n kragpaal naby ‘n skaapkraal op die plaas opgedaag sonder om die landbouer in kennis te stel dat hy daar sou wees.

Tydens die vergadering het beide partye weereens die belangrikheid van die protokol van toegang tot plase bevestig, en VL het ’n ernstige versoek aan Eskom gerig dat hulle tegnici NIE sonder ’n afspraak/kennisgewing op ’n plaas mag opdaag nie. Die belangrikheid dat alle Eskom voertuie duidelik gemerk moet wees, en dat alle personeel identifikasiekaarte in hulle besit moet hê, is ook weer uitgewys.

Eskom het ook aangedui dat al hulle voertuie met oranje ligte toegerus is wanneer hulle in die aand moet werk.

VL wil ’n dringende versoek aan alle landbouers rig dat hulle asb hulle bure in kennis moet stel wanneer hulle ’n probleem by Eskom aangemeld het, sodat almal kennis dra daarvan dat ’n Eskom voertuig in die omgewing sal werk. Talle voorvalle waar buurmanne Eskom nie wou toelaat om deur hulle plase te ry na die plaas waar die probleem is nie, is ook aangemeld. 

Die VKB/VL Veiligheidslessenaar het tydens die vergadering die belangrikheid daarvan dat Eskom se personeel ook alle prioriteitskomitee en cluster vergaderings oor landelike veiligheid moet bywoon, uitgewys.