Nuusflits November 2016 - Bethulie Land Care Komitee as beste in SA aangewys

 

Bethulie Land Care Komitee as beste in SA aangewys

Die droogte se impak op die Vrystaat ten spyt, is die Bethulie Land Care Komitee as die nasionale Departement van Landbou se Beste Land Care Komitee in 2016 aangewys. Die toekenning is op 22 November 2016 tydens ’n inligtingsdag vir kommunale landbouers op Bethulie aan die komitee oorhandig. Die amptelike aankondiging is gedurende Oktober 2016 gemaak tydens die department se 7de tweejaarlikse Land Care konferensie.

Die komitee se werksaamhede word al vir sowat 12 jaar deur die departement, kommersiële en kommunale landbouers gedryf. Sowat 60 kommunale landbouers neem aan die projek deel. Kommersiële landbouers Lawrance Adam en Dennis MacDonald dryf die projek saam ‘n span landbouers en Gerrie van der Walt, voorligtingsbeampte van die Vrystaat se Departement van Landbou.

  

Die primêre aktiwiteite van die komitee is om kommunale landbouers meer te leer oor grondbewaring, die verwydering van uitheemse plantspesies, dieregesondheid en die verbetering van veetroppe. Adam het ook al vir die groep veilings gereël, en gedurende tye wat die groep nie landbou aktiwiteite het nie, reël die komitee vir hulle werk soos om die plaaslike informele nedersetting of begrafplaas skoon te maak.

Lees ‘n artikel oor die projek wat in die Vrystaat Landbou Sê Desember 2015 verskyn het hier.