Veediewe brand los op landbouers en Polisie

Geskep op 16 November 2016

Veediewe brand los op landbouers en Polisie 

                                                                                                

 

VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring 

Veediewe brand los op landbouers en Polisie

Verdagtes word gesoek na veediewe vanoggend vroeg op twee landbouers asook op Polisie beamptes in die omgewing van Bothasberg naby Kestell in die Oos-Vrystaat losgebrand het. Die een landbouer het Dinsdagaand, 15 November 2016, ligte in die veld opgemerk terwyl hy na sy vee omgesien het wat deur ’n jakkals geteister word.

Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is hy en ’n buurman vroeg Woensdagoggend, 16 November 2016, terug na die veekamp toe, waar hulle die veediewe gevind het. ’n Onbekende aantal mans het glo probeer om van die landbouer se beeste te steel. Hulle het op die twee landbouers losgetrek, en die landbouers het die toneel verlaat en die Polisie ontbied.

Die veediewe het ook op die Polisie beamptes geskiet, en die Polisie se Tegniese Reaksie Taakspan is ook ontbied. Die verdagtes het vermoedelik oor die Lesothogrens gevlug, en geen vee is gesteel nie. Die landbouers is van plan om sake van poging tot moord te lê.

Wees uiters versigtig

Vrystaat Landbou (VL) en die lessenaar wil landbouers maan om, veral met die naderende feestyd, uiters versigtig te wees op hulle plase. “Ons rig ‘n spesiale versoek aan ons landbouers om oor die algemeen op hulle eie veiligheid te fokus, veral ook in die feestyd,” aldus Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL. Veiligheidswenke wat die lessenaar met landbouers deel, is hier beskikbaar.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê dit is die tweede voorval van veeroof wat die afgelope drie maande in die provinsie voorgekom het.

“Ons wil landbouers aanmoedig om, wanneer hulle op veediewe of so ’n toneel afkom, nie die verdagtes alleen te konfronteer nie. Veerowe is uiters gevaarlik, en die landbouer/s moet onmiddellik die plaaslike veiligheid struktuur aktiveer en die Polisie ontbied.”

Esterhuyse sê hulle is bekommerd oor dié voorvalle, en het in Augustus die jaar reeds die Polisie se hoofbestuur gevra dat sake van betreding ernstige aandag moet geniet en dat swaarder strawwe vir betreders moet geld. Sodoende sal sulke voorvalle voorkom kan word. Die komitee en lessenaar dryf ook ’n deurlopende proses met die Polisie en Departement van Justisie in verband met vervolging van verdagtes en swaarder strawwe vir veediefstal.

Vir meer inligting, kontak;

Tommie Esterhuyse by 082 782 0668

Alani Janeke by 051 4444 609

 

                                                                                                     

 

 

 

Farmer’s Weekly, trotse media vennoot van VL