Oorlewing van vee tydens die droogte

Geskep op 16 Januarie 2017

Oorlewing van vee tydens die droogte                          

                                                 

 

Deur Prof. HO de Waal, Universiteit van die Vrystaat

 

Die seisoene het wel gedraai, maar kort voor Kersfees 2016 is groot dele van Suid-Afrika nog vasgevang in ‘n knellende droogte - die ergste wat hierdie veekundige in vier dekades gesien het. Koerante haal boere selfs aan “Droogte so erg, die rysmiere het al weggetrek.”

Hierdie boodskap is spesifiek gemik op wat boere nou behoort te doen:

           ·         Voorspellings dui daarop dat goeie reën wat verligting kan bring moontlik eers in Januarie of selfs Februarie 2017 verwag word. Intussen gaan vee, veral skraal beeste wat tot nou redelik goed die           droogtetoestande (voerskaarstes) kon hanteer, by die dag vinnig agteruit. Uit nood moes boere hulle karige voerbronne rek en het drasties onder die koeikuddes geslag.

 ·         Die karige groen opslag na klein reënbuie het meestal min gehelp, veral nie onder die erge toestande van groot voerskaarstes nie. Die nuwe opslag het eerder vinnig saad gemaak en relatief min kos – blaarryke graspolle is baie skaars op veld.

 

·         Energie word deur vee verspil om groen grasbotsels na te loop en die inname van sappige materiaal met ‘n hoë waterinhoud maak diere se pense los met tipiese nat mis. Die vinniger deurvloei van klein hoeveelhede groen sappige plantmateriaal deur die dermkanaal is onder sulke omstandighede baie nadelig vir herkouers.

 

·         Diere moet toegang kry tot hooi in lang vorm (nie gemaal nie) - droë gras wat nog langs paaie of uitval grond gesny kan word, koringstrooi/oesreste en selfs fluitjiesriet sal deug. Die doel is om die spoed waarmee voedingsmateriaal deur die grootpens beweeg te vertraag en die kans op oorlewing verbeter.

 

·         Onthou voerkorrels (en asseblief nie voerpille nie!) is goeie maar relatief duur voerbronne. Wanneer voerkorrels voluit gevoer word is dit meestal ‘n volledige dieet. Indien duur voerkorrels as ‘n goeie aanvullende voerbron tydens droogte gebruik word, moet diere gerantsoeneer word – dit is nie nodig om diere vir oorlewing voluit te voer nie. Dit is belangrik om onder sulke toestande bykomende laegraadse ruvoer aan vee beskikbaar te stel. Onthou, die goeie gehalte ruvoer moet relatief fyn gemaal word om die voerkorrels in die fabriek te vorm. Die fyner ruvoer beteken diere hoef minder te herkou en gevolglik is die spoed waarmee die voerkorrels deur die grootpens en dermkanaal beweeg aansienlik vinniger. Die gevolg is dat die benutting van die voer (vertering – korter blootstelling van vesel aan fermentasie deur mikrobes in die grootpens) ook minder effektief is.

 

·         Goeie beskutting en koelte teen die hitte, asook skoon drinkwater is vanselfsprekend.

 

·         Hierdie voorstelle mag op baie plase eenvoudig nie meer prakties moontlik wees nie. Poog egter met oordeelkundige bestuur om oor die kort- en langer termyn die skade op beide die veld en diere te beperk.

 

 

·         Meeste finansiële hulpbronne is onder groot druk of reeds uitgeput. Probeer egter steeds om op ʼn realistiese wyse kontantvloei te bestuur of sinvolle finansiering te reël om noodsaaklike aktiwiteite strategies in stand te hou.

 

Vir meer navrae, kontak Prof HO de Waal by 083 645 8958 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.