2017

Landbouers, publiek gevra om paraat te wees vir veldbrande in winderige toestande

Landbouers, publiek gevra om paraat te wees vir veldbrande in winderige toestande

                                                                   

                                                                       Verklaring

21 Augustus 2017 

Meer as 60 000 ha se veld en sowat 4500 bale voer het verlede week tydens veldbrande in die Vrystaat in die slag gebly. Van die ander skade wat landbouers gely het, is die verlies van sowat 100 skape en meer as 50 beeste in twee verskillende brande. Nog veeverliese word verwag.

‘n Brand in die Frankfort omgewing het Donderdag, 17 Augustus 2017, 26km ver gebrand. Die brand het oor die N3 gespring, waar dit op die ouend deur ‘n voorbrand gestop kon word. Thinus Steenkamp, voorsitter van die Vrystaatse Sambreel Brandbeskermingsvereniging (VSSBBV), sê in dié brand alleen is sowat 50000 ha se veld verloor. ’n Tweede brand wat terselfdetyd in die Cornelia omgewing voorgekom het, het vir 14km ver gebrand voor dit by ’n grondpad gestop kon word. Die skade van dié brand word nog bepaal.

’n Landbouer van Petrus Steyn het Woensdag, 16 Augustus 2017, 100 van sy skape verloor in ’n brand wat sowat 11 500 ha se veld afgebrand het. Steenkamp sê Donderdag, 17 Augustus 2017, het sewe brande op dieselfde tyd in die provinsie voorgekom, met baie sterk winde (sommige tot 46km/h) wat toestande vererger het.

                                   

                                  ('n Brand word bestry tussen Brandfort en Bultfontein, Donderdag, 17 Augustus 2017. Foto: Hannes van Dyk)

Winderige toestande voorspel
Vrystaat Landbou (VL) wil graag ’n versoek aan alle landbouers sowel as lede van die publiek rig om asb. paraat te wees vir veldbrande. Wees asb. uiters versigtig met enige aktiwiteite wat veldbrande kan veroorsaak, veral tydens winderige toestande.

“Met die droogte wat pas verby is en onsekerheid oor weerstoestande in die 2017/18 seisoen, kan die Vrystaat nie tans nog ‘n ramp bekostig nie. Ons wil landbouers vra, beskerm asb jou veld, want ons weet nie wat volgende jaar kan gebeur nie. Ons wil bestuurders vra om nie sigaretstompies by voertuie uit te gooi nie, want dit kan gras aan die kante van paaie aan die brand steek. Verder vra ons asb dat die maak van oop vure sover moontlik beperk word, veral op winderige dae. So ’n oop vuur kan buite beheer raak en groot skade vir ’n totale gemeenskap veroorsaak,” aldus Henk Vermeulen, hoof uitvoende beampte van VL.

Madimetja Themba, voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW), voorspel winderige toestande in die weste van die Vrystaat en sentraal Suid-Afrika, Maandag, 21 Augustus 2017. Dié winderige toestande sal na verwagting Dinsdag, 22 Augustus 2017, aan die ooste van die Vrystaat en sentraal Suid-Afrika voorkom. Die winde is ’n gevolg van nog ’n koue front wat oor die land beweeg.

Steenkamp sê volgens die brand indeks is Woensdag, 23 Augustus 2017, ook ’n hoë risiko dag wat winderige toestande betref.

Grootste risikos
“Van die grootste risiko’s vir brande wat ons nie genoeg kan beklemtoon nie, is kragdrade, asook brande by munisipale vullis stortingsterreine,” aldus Steenkamp. Hy sê sedert verlede maand was daar reeds drie brande wat ontstaan het weens kragdrade wat teen mekaar vas waai weens sterk winde, of bome wat breek en op kragdrade beland en aan die brand raak, wat weer die veld aan die brand steek. Hy vra landbouers om enige moontlike probleme met kragdrade tydig aan te meld, en om enige bome wat rondom kragdrade voorkom, te verwyder.

“Dan wil ons ook vra dat landbouers enige instandhoudingswerk wat moontlik in die veld moet plaasvind en waarvoor elektriese toestelle gebruik moet word - wat moontlik vonke kan veroorsaak wat brande kan laat ontstaan - op winderige dae te staak,” aldus Steenkamp. “Dit is ook belangrik dat ’n area waar ’n brand voorgekom het, vir 12 ure daarna steeds gemonitor moet word, want boomstompe kan nog lank smeul en weer vlam vat sou winderige toestande weer voorkom.”

Vir meer navrae, kontak

Alani Janeke by 051 4444 609

Henk Vermeulen by 051 4444 609

Thinus Steenkamp by 083 738 5218

     

                                                               Farmer’s Weekly, trotse media vennoot van VL