2017

53ste plaasaanval in die Vrystaat

53ste plaasaanval in die Vrystaat

                                                                                   

VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring

26 September 2017 

Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se statistiek, het die 53ste plaasaanval van 2017 in die Vrystaat Sondagnag, 24 September 2017, op Johnny Muller van die plaas Kimberley in die Frankfort distrik plaasgevind. Die lessenaar se inligting dui aan dat Muller uitgegaan het om sy bakkie in die motorhuis te trek toe twee mans hom aangeval het.

Muller is twee keer geskiet, een keer in sy nek en een keer in sy kop. Hy word tans behandel in ’n hospitaal in Bloemfontein. Sy bakkie is gesteel, maar dit is later Sondag toegesluit op Standerton gevind. ’n Vuurwapen is ook gesteel. Leidrade word tans opgevolg om moontlike verdagtes te vind. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheid Komitee, sê twee tot drie verdagtes word gesoek, aangesien die Mullers nie seker is of net die twee mans wat hom aangeval het ten tyde van die voorval aanwesig was nie.

Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL, sê die organisasie wil graag alle landbouers en die SAPD bedank vir hulle vinnige reaksie op die Mullers se nood oproepe. “Ons veroordeel die aanval ten sterkste en ons hoop dat die skuldiges binnekort aangekeer sal word, en dat hulle suksesvol vervolg sal word. Intussen wens ons die familie sterkte toe in dié tyd, en sal ons hulle bystaan waar ook al moontlik.”

Esterhuyse voeg by: “Niks gee enige iemand die reg om iemand anders se lewe te bedreig of om iemand anders se lewe te neem nie!”

Hierdie aanval is die tweede voorval van ernstige geweldsmisdaad op ’n plaas in die Vrystaat verlede week. Op Dinsdag, 19 September 2017, is ’n werker op die plaas Mara in die Petrusburg omgewing aangeval. ’n Onbekende aantal verdagtes het die werker aangeval en vasgebind. Die werker se geld en paspoort is gesteel, sowel as elektriese gereedskap en ’n vuurwapen wat binne ’n kluis was. Verdagtes word tans ook nog in die saak gesoek.

Vir meer inligting, kontak

Alani Janeke op 051 4444 609 of 083 301 9813

Tommie Esterhuyse op 082 782 0668

Henk Vermeulen op 051 4444 609 of 079 524 5040

Farmer’s Weekly, trotse media vennoot van VL