2017

Landbouers se vinnige optrede lei tot inhegtenisneming van plaasaanvallers

4 Desember 2017

Landbouers se vinnige mobilisasie en optrede om ’n produsent en sy vrou tot hulp te snel het gelei tot die inhegtenisneming van aanvallers. Mnr Gerrie Labuschagne en sy vrou, Annatjie, is op hul plaas Normandie in die Bothaville-distrik aangeval. Die Labuschagnes het vanaf die kerk in hul motorhuis ingery toe drie aanvallers hulle ingewag het. Twee van hulle het mnr Labuschagne dadelik met ’n ysterpyp oor sy kop begin slaan, terwyl een aanvaller mev Labuschagne die huis ingedwing het op soek na geld. Sy het by die kluis aangedui dat sy die sleutel uit haar handsak wou haal en toe die rewolwer uitgepluk en ’n paar skote afgevuur waardeur die aanvaller gewond is. Die aanvaller en sy makkers het toe gevlug. Die vinnige mobilisasie van die landbouers het daartoe bygedra dat twee aanvallers gearresteer is, waarvan die gewonde een in die mielieland gevind is.

Dit wil voorkom asof die parate optrede van mev Labuschagne, asook die beskikbaarheid van haar vuurwapen vir selfverdediging, moontlik haar lewe en dié van haar man gered het. Hul kinders was ten tyde van die voorval in die huis. 

Vrystaat Landbou (VL) veroordeel die aanval op ’n produsent ten sterkste en keer die ernstige geweldsmisdade teen boerderygemeenskappe  af. Verder spreek VL sy dank uit teenoor die boerderygemeenskap van Bothaville wat vinnig gereageer en die Labuschagnes tot hulp gesnel het. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens was ook vinnig op die toneel. Die betrokkenheid van alle landbouers in terme van kommunikasie en deelname aan die Landelike Beveiligings Plan (LBP) dra grotendeels daartoe by dat gemeenskappe eerstens hul eie veiligheidstelsels in plek moet hê en tweedens dat hul met vinnige mobilisasie sukses sal bereik.

Die Bothaville-voorval was die eerste van twee in 24 uur wat in die Vrystaat plaasgevind het. Die ander voorval het Maandagoggend omstreeks 03:00 te Stillewoning-plaas in die Odendaalsrus-omgewing plaasgevind. Mnr Peter Brown en sy vrou se venster is gebreek en die diefwering oopgebreek waardeur ses aanvallers toegang tot die huis verkry het. Mnr Brown het die veiligheidshek oopgesluit om ondersoek in te stel toe hy aangerand is. Hul hande is vasgebind en hulle het beserings opgedoen. Die aanvallers het gevlug met mnr Brown se grys Mercedes Benz, met verskeie meubels en items wat hul uit die huis geroof het.

VL doen weereens ’n beroep op alle boerderygemeenskappe om hul veiligheid in en om hul wonings in hul direkte omgewings op te skerp. Maak seker dat alarms geaktiveer is en dat hulle werk. Ook dat ekstra spreiligte om wonings werk en aangebring word.  Moet ook nie ondersoek gaan instel nie. Honde moet verkieslik binne wonings aangehou word sodat ’n waarskuwing vooraf aan huisbewoners verskaf kan word wanneer daar beweging om die woning is.    

VL wens die Labuschagne- en Brown-gesinne ’n spoedige herstel toe. 

Vir navrae kontak:

Henk Vermeulen, Hoofbestuurder: Vrystaat Landbou, 079 524 5040

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis: Vrystaat Landbou, 082 922 8434