2017

Trompsburg landbouers bedank SAPD vir goeie verhouding

18 Desember 2017

Die goeie verhouding tussen landbouers en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Trompsburg-distrik in die Vrystaat het reeds op verskeie maniere vrugte afgewerp.

En dit is juis oor die goeie samewerking en as ’n blyk van waardering wat die Trompsburg-landbouvereniging in die feesseisoen vleis aan die Trompsburg-polisiestasie vir sy jaarafsluiting geskenk het. Volgens Herman Archer van die Trompsburg-landbouvereniging is daar besluit op die gebaar om die SAPD te bedank vir sy hulp en bystand aan die landbougemeenskap die afgelope jaar.

Veiligheid op plase is ’n uitdaging en deesdae baie in die kollig, maar in dié distrik is verskeie suksesse al behaal. Misdaadsyfers lyk danksy bogenoemde samewerking goed en veediewe word dikwels vasgetrek.

Archer sê daar bestaan ’n goeie verhouding tussen landbouers en die polisie binne die Landelike-beveiligingsplan. “Die vleis is om dankie te sê vir vanjaar en voort te bou op die goeie verhouding wat ons reeds die laaste twee jaar het.”

Volgens hom werk die landbouers, ’n privaat-sekuriteitsmaatskappy en die SAPD saam om veiligheid in die Trompsburg-omgewing te verseker. Hy meen die goeie samewerking tussen die SAPD en die landbouers kom van weerskante af en daar bestaan ’n oopdeur-beleid tussen hulle. “Ons wil ook die SAPD sterkte toewens vir die werk wat in die feesseisoen voorlê,” sê hy.