Twee plaasaanvalle in Vrystaat in 14 uur

Twee plaasaanvalle in Vrystaat in 14 uur 

                                                                                       

                     
                                                              
  VKB/VL Veiligheidslessenaar/ VKB/FSA Safety Desk
Verklaring/Press Release

2 Augustus 2017

Twee plaasaanvalle het sowat 14 ure uitmekaar in twee verskillende dele van die Vrystaat voorgekom. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is ses werkers Dinsdag, 1 Augustus 2017, op Johan Botha se plaas, Balitho, naby Clocolan aangeval. Die plaas lê teen Suid-Afrika se grens met Lesotho.

Twee mans het omstreeks 11h00 vier werkers op die plaas genader en aangedui dat hulle glo melk wou koop. Kort daarna het die twee mans wapens uitgeruk, en het vier ander verdagtes by hulle aangesluit terwyl hulle die werkers gedwing het om na die plaashuis toe te gaan. In die huis is die vier werkers en twee huishulpe vasgebind, en die huis is geplunder terwyl die verdagtes vir hulself kos gemaak het. Onder die items wat gesteel is, is wapens.

Die verdagtes het hulle buit op ‘n trekker en wa gelaai en van die plaashuis, wat ‘n paar honderd meter van die Caledonrivier geleë is, gery. Daar is die goedere deur die rivier gedra en in ‘n voertuig gelaai waarmee op die vlug geslaan is. Net voor die verdagtes weggery het, het hulle die veld aan die brand gesteek.

Lees verder: Twee plaasaanvalle in Vrystaat in 14 uur
 

Drie verdagtes gesoek na plaasaanval

Drie verdagtes gesoek na plaasaanval

                                                                                

VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring

21 Julie 2017

Die VKB/VL Veiligheidslessenaar en Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheid Komitee wil landbouers van Theunissen en Winburg sowel as die Polisie van Theunissen bedank vir hulle flinke optrede na ’n plaasaanval op Louis Kotze van die plaas Kopfbrunen omstreeks 18h20 Donderdag, 21 Julie 2017.

Sowat 50 landbouers het met 30 voertuie paaie in die Theunissen en Winburg distrikte gepatroleer om te help soek na drie verdagtes. Kotze en ’n vriendin is aangeval na hulle net na 18h00 by die huis gekom het. Volgens die lessenaar se inligting is Kotze vier keer met vermoedelik ’n tuin vurk gesteek tydens die aanval. Hy is in die gesig en in die rug gesteek, en het 16 steekwonde opgedoen. Hy word tans vir onder andere bloeding op een van sy longe in ’n hospitaal in Bloemfontein behandel. Sy vriendin is nie ernstig beseer nie.

Lees verder: Drie verdagtes gesoek na plaasaanval
 

Twee verdagtes aangekeer vir graandiefstal in die Vrystaat

Twee verdagtes aangekeer vir graandiefstal in die Vrystaat

                                                                             

VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring

Landbouers word aangemoedig om die SAPD asook die VKB/VL Veiligheidslessenaar te kontak indien hulle vermoed hulle slagoffers van graandiefstal was. Te midde van die land se rekord mielie-oes wat tans van landerye afgehaal word, neem graandiefstal toe en bestaan die vermoede dat landbouers al honderde duisende rande al so verloor het. Die modus operandi is glo dat vragte by een silo geweeg word en by ’n ander silo afgelewer word.  

In die mees onlangse voorval is twee vragmotorbestuurders, wat deur Farmwise gesub-kontrakteer word, aangekeer na hulle vragte mielies van ’n plaas by Wesselsbron by ’n leweringspunt op Hennenman te koop aangebied het, terwyl die vragte by ’n leweringspunt op Kroonstad afgelewer moes word.

Die kontrakteerder op Hennenman het onraad vermoed na die bestuurders die vrag teen R800 per ton aangebied het, terwyl die verhandelingsprys in die omgewing van R1800 per ton is. Hy het die plaasbestuurder gekontak om hom in te lig van die gebeure. Die plaasbestuurder het reeds onraad vermoed en die vragmotors agtervolg, aangesien 34 ton mielies op elke vragmotor gelaai word, maar die hoeveelhede wat die leweringspunt op Kroonstad bereik is nooit 34 ton nie. 

Lees verder: Twee verdagtes aangekeer vir graandiefstal in die Vrystaat
 

VL neem kennis van hofsaak

VL neem kennis van hofsaak

                                               

                                                VERKLARING

Vrystaat Landbou het kennis geneem van die berig, Boer in hof na “diewe” se dood, wat op bl. 4 van die Volksblad van 10 Julie 2017 verskyn het. Die saak is tans sub judice en ons vertrou dat die waarheid sal seëvier na afloop van die verhoor waar die hof met inagneming van alle relevante getuienis, die saak sal beslis.

Lees verder: VL neem kennis van hofsaak
 

Ses verdagtes in hegtenis vir veediefstal in Oos-Vrystaat

Ses verdagtes in hegtenis vir veediefstal in Oos-Vrystaat               

            
VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring

20 Junie 2017

Goeie samewerking tussen landbouers en lede van die Polisie op Reitz het die naweek bygedra tot die arrestasie van ses verdagtes, waarvan sommige verkeers- en munisipale beamptes is, in verband met veediefstal. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting, volg die arrestasies na ’n saak van veediefstal twee weke gelede by die Polisie op Reitz aangemeld is.

Een van die verdagtes het beeste by ‘n spekulant in die dorp afgelaai wat verkoop moes word. Die spekulant is ook ’n landbouer en het die brandmerke aan die diere herken. Hy het Johan Kriek, veiligheidsverteenwoordiger van die Reitz Distriks Boerevereniging, en die plaaslike Polisie in kennis gestel. Die landbouer wat die vee as gesteel aangemeld het, het die vee gaan uitken, en daarna het die arrestasies gevolg.

Lees verder: Ses verdagtes in hegtenis vir veediefstal in Oos-Vrystaat
 

Vrystaat Landbou (VL) vra publiek se hulp om brande te voorkom

Vrystaat Landbou (VL) vra publiek se hulp om brande te voorkom                      

                                            

                                                VERKLARING


7 Junie 2017

Die droogte is steeds vars in die landboubedryf se geheue, en landbouers en die totale bedryf gaan nog jare neem om van die effek daarvan te herstel. Miljoene is gespandeer om Vrystaatse landbouers by te staan met droogtevoer. Landboumaatskappye het hulle harte en beursies oopgemaak, en skenkings gegee asook landbouers in verskeie gevalle in terme van krediet tegemoet gekom. Daardie krediet is egter nou tydens die herstelperiode betaalbaar, so die druk op landbouers en die bedryf is steeds aanwesig.

Volgens weervoorspellings deur Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, die afgelope paar maande, kan die ontwikkeling van nog ’n El Niño stelsel gesien word, met die uitkoms daarvan tans onseker. Landbouers is reeds vir weke, en sommige maande, lank al besig om voorbereidings te tref vir die brandseisoen, veral aangesien die veld goed op reën gereageer het en daar dus baie gras en/of weiding is wat kan brand sou ’n brand ontstaan. Die behoud van dié weiding en/of gras is egter baie belangrik vir landbouers, veral in die lig van die onseker toestande in die komende seisoen.

Dit is teen dié agtergrond wat Vrystaat Landbou (VL) ’n ernstige versoek aan nie net landbouers rig om tydige voorbereidings te tref nie, maar ook aan lede van die publiek om nie brande te laat ontstaan nie.

“Met die droogte wat pas verby is en gegewe weervoorspellings van nog ’n El Niño weerstelsel wat moontlik in die 2017/18 seisoen kan voorkom, kan die Vrystaat nie tans nog ‘n ramp bekostig nie. Ons wil landbouers vra, beskerm asb jou veld, want ons weet nie wat volgende jaar kan gebeur nie. Ons wil bestuurders vra om nie sigaretstompies by voertuie uit te gooi nie, want dit kan gras aan die kante van paaie aan die brand steek. Verder vra ons asb dat die maak van oop vure sover moontlik beperk word, veral op winderige dae. So ’n oop vuur kan buite beheer raak en groot skade vir ’n totale gemeenskap veroorsaak,” aldus Henk Vermeulen, hoof uitvoende beampte van VL. Ons deel graag foto’s van die skade wat brande in veral 2014 in die Vrystaat aangerig het:

   

‘n Landbouer beveg ‘n erge brand by Reddersburg op 27 Oktober 2014. Foto: Herman Maartens

Lees verder: Vrystaat Landbou (VL) vra publiek se hulp om brande te voorkom
 

Suksesse en waarskuwings in terme van vee-, koper kabel en graandiefstal

Suksesse en waarskuwings in terme van vee-, koper kabel en graandiefstal                                                       

                                        
VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring

5 Mei 2017

Spesiale veediefstal operasies in die Vrystaat het vanaf 1 Januarie tot 31 Maart 2017 verskeie suksesse opgelewer. Die VKB/VL Veiligheidslessenaar sê volgens terugvoer van die Vrystaat se Prioriteitskomitee vir Landelike Veiligheid is meer as 250 arrestasies in dié periode gemaak, met meer as 1000 stuks vee wat teruggevind is.

Die arrestasies is uitgevoer deur Veediefstaleenhede en Sigpol lede, en in baie gevalle met samewerking van landbouers in onderskeie areas. ‘n Versoek is tydens die prioriteits komitee vergadering gerig dat SAPD eenhede met sodanige operasies moet voortgaan, aangesien dit definitief ‘n groot impak het op veediefstal. Die lessenaar is wel bewus van areas waar uitdagings met veediefstal bestaan, en pogings is onderweg om in samewerking met die verskeie rolspelers betrokke probleme te probeer aanspreek.

Verder kom dit voor dat vee in die oorgrote meerderheid van sake gebrandmerk is, met ’n minimale persentasie van sake wat aangemeld word waarin vee nie gemerk is nie. In die verlede was dit net die teenoorgestelde. Geregistreerde brandmerke vergemaklik die opspoorbaarheid van vee deur landbouers en die SAPD. Die funksionering van die Inter-provinsiale Veediefstal Voorkoming forums tussen verskeie provinsies, bv Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Noord-Kaap, in samewerking met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) bring goeie suksesse vorendag, aangesien alle nodige rolspelers oor grense heen dadelik ge-aktiveer word om na gesteelde vee op die uitkyk te wees.

Lees verder: Suksesse en waarskuwings in terme van vee-, koper kabel en graandiefstal
 

Wepener Landbouvereniging ondersteun families van plaasaanval slagoffers

Wepener Landbouvereniging ondersteun families van plaasaanval slagoffers

                                                                                

 

                                            VERKLARING

26 April 2017


Die wrede moorde van Piet van den Berg en Tsietso Matsabisa op die plaas Pharoosfontein op 20 April 2017 het die gemeenskap geruk. Van den Berg en Matsabisa is vermoedelik deur vyf verdagtes aangeval en vermoor. Van den Berg was woonagtig op die plaas, terwyl Matsabisa die gesin se huishulp was. Drie verdagtes is vir die misdaad aangekeer en het op 25 April 2017 reeds in die hof verskyn, terwyl twee nog gesoek word.


Ulrich Wagener, voorsitter van die Wepener Landbouvereniging, sê oorgrensmisdaad soos onder andere veediefstal teister die gemeenskap al vir dekades. Die gemeenskap het ook al vantevore plaasaanvalle gehad, maar die aanval op Van den Berg en Matsabisa het die gemeenskap diep geskok gelaat.

“Dis baie moeilik om te weet hoe om mense in sulke situasies te ondersteun, veral weens hulle groot emosionele verlies,” aldus Wagener. Lede van die vereniging het egter ’n versoek gerig dat beide Van den Berg en Matsabisa se families ondersteun moet word. Wagener sê daar is besluit dat die landbouvereniging sal betaal vir die opruimingswerk op toneel, “sodat ons Piet se familie ten minste dit kan spaar.” Verder is ’n ruim bydra asook ’n slagskaap aan Matsabisa se familie te gee, veral met haar begrafnis in gedagte.

 

Lees verder: Wepener Landbouvereniging ondersteun families van plaasaanval slagoffers
 

Eerste plaasmoorde in die Vrystaat in 2017

Eerste plaasmoorde in die Vrystaat in 2017

 

                                                                                                        


21 April 2017  VKB/VL Veiligheidslessenaar
Verklaring

Vrystaat Landbou (VL) het met groot skok en afgryse verneem van die drie moorde wat Donderdag, 20 April 2017, op plase in die Wepener en Ladybrand distrikte gepleeg is. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is Piet van den Berg en ’n werker van die plaas Pharoosfontein in die Wepener distrik, asook Dirk du Randt van die plaas Elim wreed vermoor tydens twee aparte voorvalle. In beide voorvalle word meer as een verdagte gesoek, met die vermoede wat bestaan dat tot vyf verdagtes betrokke kon wees in die aanval op Van den Berg.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, sê dit is skrikwekkend om deur middel van die voorvalle te sien hoe min ’n mens se lewe werd is. “Dit is duidelik dat hierdie kriminele geen respek vir lewe het nie, en ons keer die dade ten sterkste af.” In beide gevalle word verdagtes nog gesoek.

Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL, sê dit is weereens bewys dat inskakeling by plaaslike veiligheidstelsels en gereelde kontak met jou bure belangrike faktore is vir landbouers, hul gesinne en werkers. “Maak seker dat jy uitreik na jou gemeenskap, en deel vorm van stelsels, sodat jy weet wat om tydens ’n krisis te doen en wie om te kontak.”

Lees verder: Eerste plaasmoorde in die Vrystaat in 2017
 

VKB/VL Veiligheidslessenaar bemagtig landbouers vir hul eie veiligheid

VKB/VL Veiligheidslessenaar bemagtig landbouers vir hul eie veiligheid  

 

 

                                                                         

                         VKB/VL Veiligheidslessenaar
                                           Verklaring

20 April 2017

Dit is met groot dankbaarheid wat die VKB/VL Veiligheidslessenaar ’n bedrag van R420 000 van VKB ontvang het in ondersteuning van landelike veiligheid in die Vrystaat. Dié fondse is deur middel van die 2017 VKB Dryf vir Veiligheid Gholfdag op Clarens ingesamel. Die maatskappy bied al vir die afgelope vier jaar die golfdag aan ter ondersteuning van veiligheid.

Die fondse stel Vrystaat Landbou (VL) en die lessenaar in staat om landbouers te bemagtig in terme van hulle eie veiligheid, asook om samewerking tussen landbouers en die Polisie te versterk om misdaad in landelike gebiede aan te spreek. “Sonder hierdie befondsing sou die VKB/VL Veiligheidslessenaar nie in staat wees om hulle rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB en al die deelnemende spanne se ondersteuning,” aldus Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL.

Die VKB-groep is ‘n trotse landboubesigheid en word besit deur landbou produsente. Jan van der Walt, bemarkings bestuurder van die VKB-groep, sê: “Ons erken die onmiskenbare rol wat die produsente in die welvaart van die maatskappy speel, deur in samewerking met Vrystaat Landbou (VL) strukture te help vestig en onderhou wat tot die welstand van produsente kan bydra. Ons voel dit is juis belangrik om met die borgskap erkenning te gee aan die rol wat landbouers, as primêre voedselprodusente, in die daaglikse lewe van elke mens vervul, en hierdeur leef ons ook ons leuse, “vir die liefde van die land”, uit.”

Lees verder: VKB/VL Veiligheidslessenaar bemagtig landbouers vir hul eie veiligheid
 

Bladsy 2 van 4