2018

Landbouers staan saam na Tokologo-brande

9 Januarie 2018 

Vrystaat Landbou (VL) is jammer oor die verliese wat landbouers in die provinsie gely het en sal alles in sy vermoë doen om te help met die koördinering van hulp aan behoeftiges.

So het Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Bestuurder van VL, gesê nadat landbouers in die Tokologo-distrik die naweek onder groot brande deurgeloop het. VL sal van sy gevestigde strukture soos landbouverenigings gebruik maak om landbouers by te staan en in verbinding te sit met diegene wat reeds hulp aangebied het.

’n Brand, wat 5 km buite Boshof op die pad na Dealesville ontstaan het, het Saterdag in die omgewing van Boshof, Dealesville en Hertzogville verwoesting gesaai en veral baie weiding is afgebrand. Volgens die Vrystaatse Sambreel Brandbeskermingsvereniging is sowat 77 000 ha afgebrand. ’n Sterk wind het gewaai en die vuur verder aangeblaas.

“Verskeie landbouers en onafhanklike verskaffers het reeds voerhulp aangebied. Ons sal verdere beskikbare hulp ook na die landbouers herlei,” het Kriel gesê. Volgens hom sal VL strukture vasstel waar die behoefte is en hulp deurgee.

Die manier waarop landbouers reeds vinnig na die brande saamstaan is beslis prysenswaardig. Verskeie het reeds hul harte oopgemaak om diegene in nood van voer te verskaf en te ondersteun. Landbouers vanuit die Bultfontein-omgewing het ook reeds Saterdag gehelp om die brande in bedwang te bring.

VL spreek sy opregte dank uit aan diegene wat hom hiermee bystaan.

 

Vir die skenking en ontvang van voer, kontak Tania Groenewald, Sekretaresse van Agri Hertzogville, by 082 562 2985

Vir medianavrae, kontak Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Bestuurder van VL, by 082 050 1444