2018

VL reageer op uitsprake van grondonteiening sonder vergoeding

 

 

 

 

9 Januarie 2018

 

Vrystaat Landbou (VL) het met teleurstelling kennis geneem van die uitsprake van adj. pres.  Cyril Ramaphosa, nuutverkose leier van die ANC, rakende die onteiening van grond sonder vergoeding.

VL het gehoop dat hy meer rasioneel en deurdag sal wees met sy uitsprake, maar soos sy voorganger, pres. Jacob Zuma, maak hy uitsprake en beloftes sonder om die gevolge, uitvoerbaarheid en skade wat dit die land kan berokken in ag te neem.

Ongeag uitsprake die afgelope tyd deur die konstitusionele hof waar leiers en selfs die parlement aangespreek is omdat hulle nie die grondwet eerbiedig nie, maak Ramaphosa uitsprake in stryd met wat die grondwet, wat hy help skryf het, bepaal.

Die ANC het self die mosie vir onteiening sonder vergoeding wat verlede jaar deur die EFF voorgestel is, in 2017 in die parlement verwerp. “Landbou was nog altyd ten gunste van grondhervorming wat ordelik en ekonomies volhoubaar, binne die riglyne van die grondwet, geskied,” het Francois Wilken, president van VL, gesê.

VL vra dat Ramaphosa meer duidelikheid gee oor hoe grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind sonder om voedselsekuriteit, ekonomiese groei en stygende werkloosheid negatief te raak?

VL bly verbind tot die grondwet as die basis van enige vorm van grondhervorming en onderhandeling.