2018

VL veroordeel moord op gesiene Vredefort-landbouer

5 Maart 2018

 

Vrystaat Landbou (VL) spreek sy innige meegevoel uit teenoor die familie van Dirk Steenkamp wat op 4 Maart 2018 sinneloos op sy plaas naby Vredefort vermoor is. Die organisasie veroordeel enige vorm van plaasaanvalle en spreek hom ten sterkste uit teen wat met Steenkamp, ’n lid van VL, gebeur het.

VL is aktief op grondvlak betrokke om die saak te ondersoek en aan te spreek. Volgens Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, is ’n afvaardiging op 5 Maart 2018 na Vredefort gestuur om met betrokke landbouers te ontmoet.

VL sal na sy lede luister en dit binne die Landelike-beveiligingstrategie aanspreek. Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is ook onder die afgevaardigdes en sal die gebeure ontleed, die moontlike veiligheidstekortkominge identifiseer en beplan hoe dit aangespreek kan word.

“Die feit dat ’n landbouer nie meer 50 m van sy huis af ’n waterpomp kan gaan aanskakel nie en dat hy homself moet bewapen om dit te doen, sê vir ons dat die owerheid nie daarin slaag om landbouers genoegsaam te beskerm en te beveilig nie,” sê Esterhuyse.

“Dirk was ’n gesiene landbouer in die omgewing en baie aktief by die gemeenskap betrokke. Hy het uitgereik na die gemeenskap in die geheel. Nie net na landbouers nie.”

VL neem ook met kommer kennis van aanhitsende, rasgebaseerde uitsprake wat deur politici gemaak word wat landbouers se veiligheid in gedrang bring. Die organisasie kan nie toelaat dat landbou die teiken van ’n politieke magspel in aanloop tot 2019 se nasionale verkiesing word nie en staan hierdie soort uitsprake ten sterkste teen.

VL doen ’n beroep op sy lede om ons veiligheidstrukture, in samewerking met die polisie, te ondersteun en deurlopend hul veiligheid op te skerp.


Vir medianavrae, kontak Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, by 082 782 0668 of Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, by 082 922 8434