2018

VL doen beroep oor grensveiligheid op regering ná Ladybrand-moord

22 Maart 2018

 

Vrystaat Landbou (VL) is saam hartseer en spreek sy innige meegevoel uit teenoor die familie, kollegas en gemeenskap van Ladybrand wat deur die moord van ’n plaasbestuurder en beweerde verkragting van sy vrou geruk is.

VL sal sy kommunikasie-strategie gebruik om seker te maak die Landelike-beveiligingstrategie (LBS) sluit almal in die landbougemeenskap in. Die organisasie sal onder meer op 28 Maart 2018, wanneer die provinsiale implementeringsplan van die LBS tussen alle rolspelers met aksiestappe gefinaliseer word om landelike veiligheid te verbeter, by die polisie aandring dat produsente, plaaswerkers én -personeel deel daarvan moet wees. VL doen ook ’n beroep op die regering om die beveiligingsituasie by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho indringend aan te spreek.

Die plaasbestuurder van die plaas Brandenburg, sowat 5 km buite Ladybrand en naby aan die Lesotho-grens, en sy vrou is op 19 Maart 2018 omstreeks 19:00 aangeval. Die man, wat vir die landbouer Jan van den Berg gewerk het, is doodgesteek en sy vrou aangerand en na bewering verkrag. Die aanvallers is vermoedelik van Lesotho.

Volgens die VL VKB-veiligheidslessenaar se inligting is oorgrens-beweiding van vee by die voorval ter sprake en is dit ’n ernstige grensprobleem.

Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, meen die moord is ’n duidelike teken dat die regering nie voldoende maatreëls in plek het om landbougemeenskappe op die grens te beskerm nie. “Dit is skokkend dat iemand se lewe geneem word, net omdat hy weier om weiding aan buitelandse burgers se vee te gee,” het hy gesê.

“Ons sal die aangeleentheid met die polisie opneem om seker te maak almal is deel van dié Landelike-beveiligingstrategie, nie net produsente nie.”

Die plaasbestuurder se vrou het ná die voorval ontsnap en hulp ontbied. Van den Berg en sy bestuur het eers op die toneel aangekom nadat die polisie reeds daar was.

“Hierdie is ’n bewys dat oorgrens-aktiwiteite lei tot die verswakking van mense se veiligheid. Sulke kriminele aktiwiteite veroorsaak dat mense teikens en slagoffers word,” het dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, gesê.

Volgens haar moet grensveiligheid deur kwessies soos ’n grenspad, die oprigting van ’n grensheining, verhoogde operasies en patrollies aangespreek word.

Buys het gesê VL is betrokke by verskeie forums om oorgrens-beveiliging aan te spreek. Dit sluit die Border Safeguarding Forum, Cross Border Crime Prevention Forum en die Prioriteitskomitee vir Landelike Veiligheid in.


Vir medianavrae, kontak Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, by 082 782 0668

of Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, by 082 050 1444

 

Farmer’s Weekly, trotse mediavennoot van VL