2018

VL stig unieke ondersteuningsnetwerk vir landbouers

28 Maart 2018

 

’n Nuwe en unieke ondersteuningsnetwerk vir landbouers in die Vrystaat. Dit is volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van Vrystaat Landbou (VL), die doel van die stigting van Vriende van Vrystaat Landbou.

VL wil daarmee die publiek, wat nie noodwendig direk by landbou betrokke is nie, bewus maak van die omstandighede waarin landbouers werk en ’n netwerk vestig waardeur geld en kundigheid tot die organisasie se ledenetwerk beskikbaar kan raak. Dit word dan tot voordeel van landbouers gebruik en om hulle, onder meer in krisistye, by te staan.

“Ons uiteindelike doel hiermee is om Vriende van Vrystaat Landbou uit te brei na ’n nasionale inisiatief, naamlik Vriende van Landbou, sodat alle landbouers in Suid-Afrika hierby kan baat vind,” sê Kriel. “Ons het reeds met ander organisasies in georganiseerde landbou samesprekings gevoer. Vrystaat Landbou sal ’n leidende rol speel om ander te help om soortgelyke inisiatiewe van die grond af te kry om lede in ander provinsies tot voordeel te wees of te ondersteun.”

Een van Vriende van Vrystaat Landbou se eerste groot vriende is die OppieStoep-storieverteller Andries Vermeulen. Hy is dié inisiatief se amptelike ambassadeur en sal help om dit landwyd uit te brei.

Volgens Vermeulen is hy bevoorreg om daarby betrokke te wees en sal dit ook verder oor Suid-Afrika uitgebrei word as Vriende van Landbou. “Ek is deel van iets ongelooflik. Dit is een van die beter inisiatiewe waarby ek al betrokke was," sê hy.

Hy moedig almal aan om pro-aktief deel te word daarvan en “saam met ons te beweeg.”

Kriel sê die idee is om op ’n produktiewe en sinvolle wyse hande te vat om mense bewus te maak van die belangrikheid van die landbousektor, aangesien almal minstens drie keer per dag tydens etes ’n landbouer nodig het. Dit alles vorm deel van VL se algehele visie van die bevordering van ’n veilige en volhoubare landbou-omgewing in belang van landbou in die Vrystaat.

“Dieetkosse van gesondheidsliefhebbers, burgers en chips van wegneemetes én formele disse op ons tafels het almal ontstaan uit die hand van ’n hardwerkende landbouer,” sê Kriel. “Ons wil deur Vriende van Vrystaat Landbou die publiek meer bewus maak van die omstandighede waarin kos geproduseer word.”

Die ondersteuning en hulp wat deur Vriende van Vrystaat Landbou verkry word, sal landbouers onder meer bystaan met kwessies soos plaasveiligheid, grondsake, asook die stigting van ’n rampfonds vir hulp tydens krisistye soos brande, droogtes en vloede.

  • Deel van die inisiatief, is die bekendstelling van ’n veiligheidstoepassing met die naam Die Plaaswag. Die toepassing of toep, waarvan VL ’n vennoot is, werk met ’n paniekknoppie en sal landbouers en die publiek se veiligheid verbeter. Dit het ook ten doel om akkurate misdaadstatistieke te versamel waarmee VL leiding kan neem in die bekamping van misdaad in die Vrystaat. Besoek dieplaaswag.co.za vir meer inligting en om die toepassing af te laai.

 

Hoe word jy ’n vriend?

Daar is verskeie maniere om deel van Vriende van Vrystaat Landbou te word. Besoek www.vlvriende.org en teken in op ons nuusbrief. Teken in op ’n debietorder en skenk soos jou hart sê. Of stuur ’n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of skakel Vrystaat Landbou se kantore by 051 444 4609.

 


Vir medianavrae, kontak Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, by 082 050 1444