2018

Oom Lullu het sy lewe aan landbou gewy

 

Van links is Dr Jack Armour, Bedryfsbestuur van Vrystaat Landbou (VL), Lullu De Jager, voormalige Hoofbestuurder van VL, Hettie, De Jager se vrou, Boet Wilken, Voorsitter van VL se Jongboer-komitee, en Johann van Graan, Bestuurder: Finansies en Administrasie by VL, by die onlangse VL Jongboer-konferensie. Foto: 3’kie’s Fotografie

 

8 Mei 2018

“Dit is met leedwese wat ons verneem van die afsterwe van oom Lullu de Jager. Hy was ’n groot gees in die landbou en die man wat Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer-komitee begin het.”

Só het Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, gesê nadat De Jager (79) op 8 Mei 2018 oorlede is.

“Hy het ’n groot impak gemaak en sy lewe aan landbou toegewy. Ons sal hom mis.”

De Jager, wat vanaf 1984 tot 1999 Hoofbestuurder van VL was, was die laaste tyd in die hospitaal nadat hy op 15 April 2018 ’n noodoperasie weens bloeding op die brein ondergaan het. Hy het die laaste paar jaar ook aan kanker gely.

“Wat oom Lullu spesiaal gemaak het, is sy absolute toewyding om jonger mense in die organisasie (VL) ’n kans en ’n plek te gee en hulle te ontwikkel,” het Dan Kriek, President van Agri SA en voormalige President van VL, gesê.

“Dit het hy gedoen deur die Jongboer-komitee, maar hy het dit baie verder as dit gevat. Hy het aan jonger landbouers ’n gelyke plek gegee saam met die seniors. Hy het aan hulle relevansie en geleenthede gegee.”

Al was hy afgetree, was De Jager steeds by landbou betrokke. Hy het ondanks sy siekte nog op 12 April 2018 VL se Jongboer-konferensie, met die tema Gesamentlike Boerdery, in Bloemfontein bygewoon.

Hy was ook die groot dryf agter VL se gedenkboek, wat met die organisasie se 100-jarige bestaan uitgegee is. Dit is in 2004 op VL se jaarlikse kongres met die begin van die eeufeesvieringe bekendgestel.

 

 

Farmer’s Weekly, trotse mediavennoot van VL