2019

VL maak sterk standpunt ná uitreiking van paneelverslag oor eiendomsreg


31 Julie 2019

“Vrystaat Landbou (VL) sal, saam met ander belangegroepe, voortgaan om enige grondwetlike wysigings teen te staan wat die deur oopmaak vir prosedures buite die praktyke wat reeds binne die Grondwet van Suid-Afrika bestaan.” Dit is die boodskap van Francois Wilken, President van VL, aan sy organisasie se lede en die landbousektor nadat die finale verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou vrygestel is.

Volgens Wilken bly VL gekant teen onteiening sonder vergoeding (OSV) en sal kwessies daaroor ook op VL se jaarkongres, wat op 7 en 8 Augustus 2019 in Bloemfontein plaasvind, bespreek word. “Ons deel die mening dat die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet onnodig is en dat dit gepaardgaande risiko’s oor die beskerming van eiendomsreg verder sal verhoog,” sê Wilken. Die langverwagte paneelverslag en ’n alternatiewe verslag, wat deur president Cyril Ramaphosa erken is, waarin die rol van die privaatsektor uitgelig word, is op 28 Julie 2019 vrygestel.

“Ons meen ook dat as die regering met die beplande proses voortgaan, dit katastrofiese gevolge sal hê,” sê Wilken. “As daar geen landbouers is wat kos produseer nie, wie gaan dan kos hê om te stem vir die politici wat hierdie ondeurdagte plan bestuur? Geen landbouers is gelyk aan geen kos!”

Kwessies oor die grondwetlike noodsaaklikheid vir grondhervorming, transformasie in die landbousektor en hoe die OSV-narratief ’n buitengewone ingewikkelde saak gemonopoliseer het, is alles op die agenda van VL se komende kongres.

Prof Danie Brand, Direkteur van die Sentrum vir Menseregte by die Universiteit van die Vrystaat, is ’n grondwetlike kundige en sal by die kongres gesels oor die prosesse van onteiening en hoe die proses vir OSV sal verloop indien konstitusionele veranderinge aangebring moet word. Dr Frans Cronje, Hoof Uitvoerende Beampte van die Instituut vir Rasseverhoudinge, sal op sy beurt die feite gee oor wat kan gebeur indien OSV in verskeie vorms toegelaat word.

Verder beskou VL ook die mosie in die parlement, wat op 25 Julie 2019 bekendgemaak is, as ’n direkte aanval op eiendomsreg. Wilken meen dit wys dat die regerende party, duidelik net om politieke redes, ondanks al die katastrofiese gevolge steeds wil voortgaan met die skadelike wysiging van die grondwet.

Volgens hom bly VL verbind tot die volhoubaarheid van landbou in Suid-Afrika. “Ons wil dit onomwonde stel dat Vrystaat Landbou alles in sy vermoë sal doen om die regte van sy lede en landbouers te beskerm deur enige wysiging van die grondwet teen te staan.”