2019

VL beklemtoon verantwoordbaarheid en stem in tot verstandhouding met Departement van Landbou


Die Uitvoerende Bestuur van Vrystaat Landbou (VL) het met die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat vergader en ooreengekom om ’n memorandum van verstandhouding op te stel om ’n werksverhouding te struktureer. Hier spreek William Bulwane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, lede van die vergadering toe. Foto: Vrystaat Landbou

 

9 September 2019
Verantwoordbaarheid. Dit is ’n opsomming van Francois Wilken, President van die Vrystaat Landbou (VL), se boodskap aan William Bulwane, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, en sy afvaardiging.

Volgens Wilken is die belangrikste aspek van ’n verhouding tussen VL en Bulwane se departement om verantwoordbaar te wees. “As ons dit nie gaan regstel nie, kan ons maar net sowel huis toe gaan,” het hy op 5 September 2019 by ’n vergadering tussen lede van VL se Uitvoerende Bestuur en die department gesê.

Albei partye het op die vergadering, wat ook deur dr Tankisi Masiteng bygewoon is, ooreengekom om ’n memorandum van verstandhouding op te stel om ’n werksverhouding tussen hulle te struktureer. Masiteng is die Hoof van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat.

Wilken het daarop aangedring dat die vergadering nie net nóg ’n gepraat met geen tasbare resultate, soos soortgelyke vergaderings in die verlede, is nie. Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, het ook beklemtoon dat wedersydse vertroue nodig is om doeltreffend vorentoe te gaan en dat die department se leierskap deur voorbeeld moet lei. “Dan kan ons op die positiewe aspekte konsentreer om die sektor in die toekoms te inspireer,” het hy gesê toe hy Bulwane vir die ontmoeting bedank het.

 

Kwessies aangespreek

Wilken het VL se standpunt oor die privaatbesit van grond benadruk en gesê deur nie volle titelaktes aan nuwe toetreders tot landbou, via gesubsidieerde bankkrediet, te gee nie, ook iets is wat opkomende landbouers terughou.

Hy het die Departement van Landbou se veearts-dienste en die weermag geprys vir die voorkoming van die verspreiding van miltsiekte vanaf Lesotho na Suid-Afrika en het die nasionale Departement van Landbou gekritiseer oor die hantering van bek-en-klouseer, wat Suid-Afrika miljarde rande aan uitvoerinkomste gekos het.

Van die belangrikste kwessies wat deur VL geopper is, was onder meer landelike misdaad en veediefstal wat die volhoubaarheid van landbouers (groot, klein en bestaans) en plaaswerkers beïnvloed. Probleme by die Lesotho-grens, wat brandstigting, misdaad en die bedreiging van die verspreiding van aanmeldbare siektes weens onvoldoende polisiëring (mannekrag, voertuie, ondersoekkapasiteit en skutte) insluit, is ook uitgelig.

Die skokkende toestand en instandhouding van landelike paaie en die sluiting van landelike lisensiërings- en toetsstasies was ook op die agenda, asook die bedreiging van goedkeurings vir gas- en myn-prospektering en die departement se disfunksionele kantore in klein dorpies.

 

Bulwane se pleidooi aan landbouers

Bulwane het plaasmoorde en alle vorme van landelike misdaad veroordeel en erken dat die regering te veel in silo’s werk. Hy het gesê hy sal spesifieke departementele kwessies na die regte partye en Lesotho-eweknieë herlei en het voorgestel om oor twee maande weer te vergader om die vordering te evalueer.

Hy het VL versoek om saam te werk om die bruto binnelandse produk van die provinsie te verhoog en erken dat landbou die enigste sektor is wat die ekonomie kan laat groei en meer werk kan skep. Bulwane het ’n pleidooi aan VL landbouers gerig om hul vaardighede te deel en nuwe toetreders tot landbou te help om hul voete te vind en toegang tot markte te kry om volhoubare, ekonomies lewensvatbare landbou-eenhede te hê.