2019

VL verwelkom LBS se groter fokus op gemeenskapsbetrokkenheid en bekamping van georganiseerde misdaad


16 Oktober 2019

“Die kern van die hersiene Landelike Beveiligingstrategie (LBS) is om veiliger landbougemeenskappe te hê, maar dit kan slegs gebeur as almal daarby inskakel én ’n ingesteldheid van samewerking het.” Só sê Jakkals le Roux, Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidskomitee.

Die hersiene LBS lê groter klem op samewerking en daarom versoek VL alle rolspelers om aktief daaraan deel te neem om misdaad te bekamp. Le Roux sê almal wat deur die strategie uitgelig word, moet saam met georganiseerde landbou, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en ander departemente werk sodat ’n “gesamentlike gemeenskapsbenadering” gevolg kan word.

VL verwelkom die LBS en versoek die SAPD om by die spesifieke tydlyne vir die implementering en evaluering daarvan te hou. Daar moet ook opleidingswerkswinkels, tussen die SAPD, SANW, georganiseerde landbou en ander rolspelers, op distriksvlak plaasvind om die uitvoering daarvan te verseker.

Die hersiene LBS, wat heelwat veranderinge bevat, is op 11 Oktober 2019 in Makhado deur die Bheki Cele, Minister van Polisie, en Genl. Khehla Sitole, Nasionale Polisiekommissaris, bekend gestel. Dié strategie, wat voorheen vier fokusareas gehad het, is nou op agt pilare gegrond.

 

Vier ekstra fokusareas

Die eerste van vier ekstra fokusareas is om gemeenskapsbetrokkenheid en rolspelers se samewerking te verhoog om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer. Dit sluit die daarstelling van privaat ondersteunde tegnologiese hulpmiddels in wat deur privaat of publieke vennootskappe bewerkstellig word.

Tweedens om regeringstelsels en wetgewing wat misdaad en veiligheid negatief beïnvloed te verbeter en uit te brei. Verder om ook ’n ontledingsproses oor georganiseerde misdaadbedreigings te implementeer wat groepe en sindikate moet verbind wat by landelike misdaad betrokke is en laastens om die uitrol van die LBS kwartaalliks te monitor, elke drie jaar te evalueer en elke vyf jaar te hersien.

 

Monitor en uitvoering belangrik

Le Roux meen dis belangrik dat die LBS op alle vlakke van samewerking gemonitor word en dit is waar tydlyne belangrik is. “Dit beteken dat daar binne ’n jaar of twee ’n wesenlike verbetering moet wees wat kapasiteit, mannekrag en toerusting betref.”

Dit moet ook nie net ’n teoretiese dokument wees nie. “Daar moet daadwerklike uitvoering geskied, wat die uitvoering van kort- en mediumtermyn strategieë insluit.”

Groter samewerking by vergaderings van byvoorbeeld die prioriteitskomitee is belangrik en beter verhoudinge moet tussen almal gebou word. “Daar moet ook nouer kontak en skakeling met die SAPD op alle vlakke, grondvlak-, distriks-, provinsiale en nasionale vlak, wees,” sê Le Roux.

Die hersiene LBS bepaal ook dat verskeie ander aspekte volgens tydlyne, veral teen Maart 2021, aandag moet geniet.

Dit sluit onder meer werkstudies in om die vestiging van landelike veiligheidseenhede daar te stel, die kapasiteit van bestaande veediefstal-eenhede uit te brei en om misdaad intelligensie ’n groter rol te laat speel in die daarstel van verbindinge oor georganiseerde misdaad.

Die fokus van eiendomsmisdade moet uitgebrei word na diefstal van plaasimplemente en produkte en die onwettige jag met honde moet aandag geniet.

Die SAPD se kapasiteit, mannekrag en hulpbronne moet voorkeur kry en private sekuriteitsmaatskappye en burgerregte-organisasies moet ingetrek word. Verder is vinnige reaksiespanne én die versterking van grensoperasies ook ’n prioriteit.

Wetgewing soos die nasionale Skutwet, wat al jare sloer om geïmplementeer te word, moet ook gefinaliseer word.