
Drie vasberade en dinamiese jong boere, wat elkeen 'n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe is, sal mekaar die stryd aansê om as Vrystaat Landbou se 27ste Jongboer van die Jaar aangewys te word.
Die kandidate is:
Hansie Müller (36) van Viljoenskroon
Hennie Geldenhuys (37) van Excelsior
Lukas Lessing (26) van Marquard
Hansie Müller boer die afgelope 18 jaar, waarvan 7 jaar op sy huidige plaaseenheid wat hy self aangekoop het. Hy is passievol oor sy voerkraal en werk saam met sy vrou, Adrie, volgens sy persoonlike leuse, "Nie die grootste nie, maar die beste". Benewens die voerkraal bedryf hy ook 'n saaiboerdery. Hansie glo dat kinders nie honger moet gaan slaap nie en is dus betrokke by verskeie gemeenskapsaksies in sy omgewing. Hy is ook lid van die brandvereniging en is betrokke by landelike veiligheid in sy omgewing.
Hennie Geldenhuys, in sy woorde, boer van kleins af en het 'n liefde en passie vir wat hy doen. Hy glo jy pluk die vrugte van jou harde werk en is dus nie bang om sy moue op te rol en self in te spring nie. Hennie is die besturende direkteur van die familie se stroopkontrakteur onderneming en bedryf ook sy eie saaiboerdery. Hy is deel van die plaaslike plaasveiligheidsektor wat gereeld saam met die polisie patrolleer. Hy en sy vrou Franciske ondersteun ook die plaaslike kleuterskool, kerke en gemeenskapsaksies.
Lukas Lessing boer al 10 jaar en wil niks anders doen nie. Hy glo die feit dat sy pa hom van jongs af by besluitneming betrek en hom vryheid gegee het, het positiewe resultate opgelewer. Hy is tans die algemene bestuurder van die familietrust. Hy bedryf hoofsaaklik 'n saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom) en 'n kleiner veevertakking. Lukas en sy vrou, Marné, is betrokke by hul plaaslike kerk sowel as die plaaslike aftreeoord en Lukas skroom nie om self plaaspaaie te skraap waar nodig nie. Hy glo dat sy werkers moet baat by hul insette in die boerdery, dat hulle versorg is en hul werk geniet.
Die wenner word op 18 April 2023 in Bloemfontein aangekondig en dring outomaties deur na Agri SA/Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie.
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
1Plasings
171Plasings
13Plasings
12Plasings