
Vrystaat Landbou (VL) spreek sy skok uit oor twee plaasaanvalle wat die afgelope naweek in die Vrystaat plaasgevind het.
In die eerste voorval, is 'n 72-jarige vroulike boer, wat alleen in die Bultfontein-gebied boer, Vrydagaand omstreeks 18:00 in haar huis oorval en aangerand. Sy is toe in die kattebak van haar eie motor toegesluit en deur haar aanvaller in die rigting van Bloemfontein vervoer. Die voertuig het naby Soutpan onklaar geraak, waarna die aanvaller haar eenvoudig langs die pad gelos het, steeds toegesluit in die kattebak.
Die boervrou het vir byna 'n volle dag in die versengende hitte in die kattebak vasgekeer gelê, totdat sy Saterdagmiddag ontdek is. 'n Polisiebeampte van Bultfontein het die voertuig Saterdagoggend om 07:45 opgemerk, maar eers ondersoek ingestel toe hy later daardie middag om 17:15 teruggekeer het. Die beampte was van diens af, maar het nietemin ondersoek ingestel. Toe die dame voetstappe hoor, het sy hulp ontbied en is uiteindelik bevry – uitgeput, gedehidreer en getraumatiseerd.
In 'n tweede voorval, is 'n 56-jarige boer van die Clocolan-omgewing Sondagmiddag omstreeks 18:00 deur drie aanvallers in sy plaashuis oorval en ernstig aangerand. Een van die aanvallers wou blykbaar die boer skiet, maar is deur die ander gekeer. Die boer is toe herhaaldelik met messe gesteek. Die aanvallers het met kontant en vuurwapens gevlug. Die boer het daarin geslaag om homself te bevry en na die werkers se huise te beweeg. Die werkers het hom gehelp om die nodige alarm te maak.
Vrystaat Landbou wil graag sy opregte dank en waardering uitspreek teenoor die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul vinnige optrede in beide gevalle. Ondersoeke is aan die gang.
Plaasaanvalle in 2025
Volgens dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder van VL, was daar 27 plaasaanvalle en 7 moorde in die Vrystaat in die kalenderjaar 2025. In die 7 plaasmoordvoorvalle is in een geval 'n boer, 'n besoeker en in 5 voorvalle werkers op plase vermoor. Inhegtenisnemings is in 5 voorvalle gemaak. (In Desember was daar 6 plaasaanvalvoorvalle in die Vrystaat).
In die 27 plaasaanvalle is 12 boere en in sommige gevalle hul vrouens, 12 plaaswerkers, insluitend sekuriteitswagte en veewagters, aangeval. Daar was ook 3 voorvalle waar besoekers en/of inwoners op plase ook in plaasaanvalle geteiken is. Arrestasies is in 11 voorvalle gemaak. In 6 dorpe was daar 2 tot 4 plaasaanval-/moordvoorvalle, naamlik Bloemfontein, Clarens, Smithfield, Virginia, Warden en Wepener.
Beroep op boere om betrokke te raak
“Ons doen weereens 'n dringende beroep op alle boere, jonk en oud, om aktief deel te vorm van hul plaaslike veiligheidsstrukture, insluitend plaaswagte, radiostelsels en veiligheidsinisiatiewe. Veiligheid kan nie geïgnoreer of uitgestel word nie. Samewerking en waaksaamheid is tans ons enigste skild teen hierdie gruweldaad,” sê dr. Buys.
Vrystaat Landbou herhaal sy beroep op die owerhede om landelike veiligheid as 'n prioriteit te beskou en te verseker dat die nodige hulpbronne, mannekrag en aksies, soos ondersteun deur die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie, in plek gestel word. Die lewens, waardigheid en veiligheid van boere, hul families en werkers op plase kan nie meer as onderhandelbaar beskou word nie.
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
4Plasings
174Plasings
14Plasings
13Plasings