Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Eskom se betalingsplan sal net sy probleme vererger

deel hierdie plasing

Die landbousektor het Eskom verskeie kere gewaarsku dat sy planne daartoe sal lei dat hy die landbousektor as klant sal verloor.

Die jongste plan om drastiese heffings op vaste koste te hef, is geen uitsondering nie. Tans is die gemiddelde rekening 30% vaste koste en 70% gekoppel aan werklike kraggebruik. ESKOM wil nou 'n aansoek by NERSA indien wat die verhouding na 'n 70% vaste koste komponent omkeer. “Boere betaal reeds groot koste wanneer dit by vaste koste kom, dit terwyl die verskaffing van elektrisiteit die laaste paar jaar dikwels om verkeerde redes in die nuus was.” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). Dinge het gladder gegaan in die afgelope 70 plus dae aangesien die beskikbaarheid van elektrisiteit aansienlik verbeter het en beurtkrag glad nie plaasgevind het nie.

Hoe aangenaam dit ook al is, moet die rede hiervoor dalk ondersoek word. Daar is diegene wat meen dat hierdie verskynsel met die verkiesing te doen het en bloot 'n verkiesingsfoefie is, terwyl ander meen dat die groot aantal gebruikers wat hulle intussen tot alternatiewe kragvoorsiening soos sonkrag gewend het, die vraag na elektrisiteit verminder het. Hoe dit ook al sy, en as die vraag na elektrisiteit afneem, is die realiteit dat Eskom betalende klante verloor en dus die dryfkrag om hierdie koste so geweldig aan te pas. Iets waarteen die instansie gewaarsku is.

Wilken noem verder dat boere reeds enorme uitgawes het wat insetkoste betref; hulle help om paaie reg te maak, en dies meer. “Dit is alles uitgawes waarvoor hulle nie vergoed word nie en tog sit hulle steeds kos op die land se tafels. Die jongste poging om meer geld uit verbruikers te druk, is niks anders as blatante ooglekkertjies nie. Dit gaan nie die sukkelende instelling help uit die finansiële verknorsing waarin hy hom bevind ondanks ’n onlangse regerings reddingsboei nie.” Wilken meen verder dat dit ironies is dat 'n verskaffer van 'n produk sy kliënte ontmoedig om die produk te gebruik en sodoende 'n teenreaksie (oorlading), byna ongehoord en waarskynlik die enigste verskaffer in die wêreld wat hierdie besigheidstrategie volg, te vermy. Die strategie het nou reperkussies veroorsaak en dus moet die betalende kliënte weer daarvoor betaal. Die einde van hierdie trajek is sleg.

Die pryse van alternatiewe energie het nou goedkoper as ESKOM geword en gebruikers koop alternatiewe aan. Om ESKOM as rugsteun te hê, het die infasering en finansiering vergemaklik, maar nou met drastiese prysstygings op vaste koste en dalk selfs koolstofbelasting, sal kragverbruikers gedwing word om heeltemal van die netwerk af te gaan en daardie mark sal totaal verlore wees vir ESKOM.

Nie almal kan dit bekostig nie, want die koste van batterybergingskapasiteite beteken dat kraggebruikers wat krag benodig gedurende die nag of tydens beurtkrag steeds van ESKOM-krag afhanklik is. Ekstensiewe veeplase betaal reeds proporsioneel meer aan vaste koste as hul werklike kragkoste. Landbouverwerkings- en waardetoevoegingsaanlegte het koelkamers om vars produkte en vleis vars te hou, en verwarmingstelsels vir intensiewe produksie en klimaatbeheerde stelselplase het ’n betroubare en bekostigbare kragbron nodig om gesonde kos aan die verbruiker te verskaf. Sodra ESKOM se aansoek by NERSA vir openbare insette oopgestel word, sal Vrystaat Landbou dit teenstaan. “Die groot koste-implikasies wat dit sal hê op veral kleiner en intensiewe plase en verwerkingsaanlegte wat direkte klante van ESKOM is, sal voorkom moet word.”