
Ná maande se afwagting is die Onteieningswet deur president Ramaphosa onderteken, maar Vrystaat Landbou (VL) glo dat die wet nie die grondwetlike toets sal slaag nie.
Die organisasie wys daarop dat die wet se definisie van “onteiening in die openbare belang” vaag is en subjektief toegepas kan word. Francois Wilken, president van VL, meen die Onteieningswet is irrasioneel aangesien dit alle bates (nie net grond nie) vir onteiening teen 'n vergoeding van R0. Verder plaas dit die onregverdige las op die slagoffers van onteienings om die koste van besware en regsoorsigte te dra. “Die staat gebruik jou eie belastinggeld om jou te beveg, terwyl jy die volle rekening betaal,” verduidelik Wilken.
Die vae en verreikende bepalings van die wet skep ruimte vir magsmisbruik en korrupsie op alle regeringsvlakke. “Die toepassing van die Onteieningswet kan ekonomiese en politieke chaos tot gevolg hê, want dit laat toe dat die bates van enige persoon geteiken word – van ’n arm bestaansboer tot ’n regter van die Konstitusionele Hof, of selfs politieke opponente,” waarsku Vrystaat Landbou. .
President Ramaphosa is reeds uit verskeie oorde versoek om die wet na die Konstitusionele Hof te verwys. Hy het egter nie gehoor gegee nie – “waarskynlik omdat hy weet die wet is ongrondwetlik, maar nie die moed het om Suid-Afrikaners teen die ANC se ideologie te beskerm nie,” sê Wilken. Dit is nou aan die burgers van Suid-Afrika om hul eiendomsreg te verdedig, en Vrystaat Landbou sal deel wees van hierdie stryd.
VL meen verder dat 'n politieke vakuum in die land ontstaan het. Die voormalige opposisiepartye in die GNU het hul kritiese stem verloor en bied nie meer effektiewe opposisie teen die regering se beleid nie, terwyl die ANC aanhou stoomroller met hul planne. Suid-Afrika word dus gelaat met verkose verteenwoordigers wat geen visie of rigtinggewende beleid bied nie.
Tydens die 2024-verkiesing is kiesers belowe dat die opposisie ’n sogenaamde oordeelsdag-koalisie sou stopsit. Nou is hulle deel van die kabinet wat ’n oordeelsdagbeleid instel. Die vraag is: hoekom is hierdie partye deel van die regering as hulle geen invloed op beleidsbesluite het nie?
Vrystaat Landbou beklemtoon: “Ons sal alles in ons vermoë doen om eiendomsreg op landbougrond te beskerm. Alhoewel ons fokus tans op landbougrond is, glo ons dat hierdie kwessie ook ander sektore sal raak.”
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
4Plasings
160Plasings
10Plasings
5Plasings
Ⓒ 2025 Vrystaat Landbou Alle regte voorbehou | Webwerf deur Splinternuut