Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Boere vra vir tegnologie om oorgrensmisdaad te bestry

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) het op 29 September 2025 'n konsultasie vergadering met grensboere in die Wepener- en Boesmanskop/Zastron-gebiede bygewoon om die rehabilitasie van die RSA/Lesotho-grenspad te bespreek. Die boere het eenparig beswaar gemaak teen 'n begaanbare grenspad.

Volgens Francois Wilken, president van VL, vra boere al dekades lank dat die grenspad herstel word op 'n manier wat die veiligheid van boere en boerderygemeenskappe beskerm. Die werklikheid is egter dat nóg die provinsiale nóg die nasionale regering hierdie versoek geprioritiseer het. Ministers van Landbou, Binnelandse Sake en Openbare Werke het selfs besoeke aan die grens drie keer uitgestel, ten spyte van dringende veiligheidskwessies.

Boere glo dat 'n begaanbare grenspad gevaarlik is, want:

  • Kriminele groepe van Lesotho, wat baie tyd op hul hande het, het herhaaldelik heinings en paaie afgebreek of met klippe versper. Die SANW weier om die klippe te verwyder en boere twyfel of 'n pad patrollering deur die weermag sal verbeter.
  • ’n Begaanbare grenspad sal sindikate en misdaadgroepe in staat stel om gesteelde vee en ander eiendom vinniger en meer gereeld oor die grens te vervoer. Dit verhoog risiko's en plaas die veiligheid van boere en landelike gemeenskappe in nog groter gevaar.

Wilken sê verder dat boere eerder versoek dat die bestaande toegangsroetes na die grens beter in stand gehou word vir noodgevalle, en dat moderne tegnologie beskikbaar gestel word om hulle 'n voorsprong teen misdadigers te gee. 'n Betroubare selfoonsein is noodsaaklik hiervoor. Vrystaat Landbou bevestig dat hulle, na talle briewe, 'n vergadering met die Minister van Kommunikasie bewerkstellig het om die ICASA-reëling te bespreek wat tans verhoed dat selfoonmaatskappye seine oor die grens uitstuur. Hierdie beperking beteken dat daar op baie plekke langs die land se grense geen selfoonsein is nie. VL ondersteun hierdie versoek en sal dit aktief saam met relevante rolspelers bevorder.

“Die veiligheid van ons boere kan nie meer geïgnoreer word nie. Oplossings lê nie in ’n rybare grenspad nie, maar in beter toerusting en tegnologie wat misdaad kan voorkom,” sê Wilken.