Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaatse Grensboere Ly Onder Opsetlike Brandstigting

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) het kommer uitgespreek oor die voortdurende probleem van veldbrande op plase langs die RSA/Lesotho-grens, wat doelbewus deur mense van Lesotho aangesteek word.

In die afgelope drie dae alleen (14–16 Julie 2025) is sewe veldbrande binne 'n radius van 20 km in die Boesmanskop-gebied (naby Wepener en Zastron) aangesteek. Die skade is enorm – boere verloor waardevolle weiding, vee en infrastruktuur. Maar dit gaan nie net oor ekonomiese verliese nie; dit gaan oor veiligheid en oorlewing. Grensboere staar elke jaar groot verliese, trauma en gevaar in die gesig.

“Grensboere leef daagliks met die vrees dat hul plase en gesinne die volgende teiken sal wees. In 2024 moes hierdie boere 57 brande in net twee maande bestry – almal vermoedelik kwaadwillig deur Basotho aangesteek,” sê dr. Jane Buys, VL-veiligheidsrisiko-ontleder.

Volgens Gerard Jordaan, ’n boer van Boesmanskop, bestaan daar ’n wanopvatting onder mense van Lesotho dat die lande gebrand moet word om nuwe, groen weivelde na die eerste reën te verseker. “Hulle dryf dan hul beeste oor die grens om op Suid-Afrikaanse plase te wei – iets wat onwettig is,” verduidelik hy.

Dr. Buys bevestig dat Vrystaat Landbou reeds 'n dringende versoek aan die LUR'e vir Landbou en Gemeenskapsveiligheid, die Departement van Paaie en Vervoer, die SANW en SAPD gerig het om met hul eweknieë in Lesotho te skakel om bewustheid in dorpe en nedersettings aan die ander kant van die grens te skep oor die wetteloosheid en gevolge van hierdie brande.

“Boere spandeer waardevolle tyd om brande te blus, eerder as om hul boerderyaktiwiteite voort te sit,” voeg dr. Buys by.

Die probleem word verder vererger deur die feit dat die “Working on Fire”-span in Vanstadensrus nie grensboere kan help nie, aangesien die grenspad heeltemal onbegaanbaar is. Dit maak dit onmoontlik vir noodvoertuie en -toerusting om die geaffekteerde gebiede te bereik. Dr. Buys sê hierdie probleem is reeds in 2024 aan twee LUR'e uitgewys tydens 'n besoek aan die grens.

“Hierdie brande – en die groter konteks van grensmisdade – bevestig dat grensboere deur die regering en sy strukture in die steek gelaat word. Hulle moet na hul eie veiligheid omsien, brande bestry, paaie in stand hou en voortgaan om voedsel te produseer,” sê Buys.

Vrystaat Landbou doen 'n ernstige beroep op die Minister van Openbare Werke om dringende prioriteit te gee aan die herstel van die grenspad. “Sonder toegang tot die grens kan brande onbeheerbaar raak en selfs tot lewensverlies lei,” waarsku dr. Buys.

Intussen raai dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, alle boere aan om op hul hoede te wees met die naderende veldbrandseisoen, en om aktief met hul plaaslike brandbeskermingsvereniging (BVV) in verbinding te tree.