
Boere staar die grootste oorlewingskrisis nog in die gesig. Ongeag wat ekonome en ander geleerdes wil voorgee, boere is in die moeilikheid: finansieel, emosioneel en geestelik.
Boere is prysnemers, aan die inset- en uitsetkant en betaal steeds die vervoer beide rigtings. Dit is tyd dat ons kyk na die werklike faktore wat gelei het tot die krisis waarin produsente hulle nou bevind. Die droogte speel wel ’n rol, maar ons het goeie reënvaljare gehad – hoekom maak boere nie meer wins om die onvermydelike slegte jare te kan oorbrug nie?
Beïnvloedende faktore
Met verloop van tyd het insette net bly styg en boere is gemanipuleer om dit as 'n gegewe te aanvaar. Die probleem is dat insetverskaffermaatskappye internasionaal verder wegbeweeg van die boer op die grond en van wat ons uitdagings is. Winste vir aandeelhouers is belangriker as die voortbestaan van die sektor waaroor elke land se voortbestaan draai. Die beleggingsborrel gaan bars! Waarom kos mieliesaad R300 000 per ton teenoor 'n graanprys van R4 000 per ton? Die koste van landboutoerusting is heeltemal buitensporig en onbekostigbaar. Die hoof uitvoerende beampte van ’n 'bekende groen maatskappy' wat landboutoerusting in Amerika vervaardig, verdien R1 282 191 per dag! Dit sê alles. Net om as voorbeeld te noem, maar daar sal lang verduidelikings wees om dit te regverdig. Moenie ons boere se intelligensie onderskat nie!
Veeboere se insette soos veemedisyne, toerusting en kragvoer is onbekostigbaar en ons kan nie meer winsgewend teen huidige pryse boer nie. Met verloop van tyd is ons boere aangemoedig om beter praktyke met bewaringsboerdery en so meer aan te neem om kunsmis en chemikalieë te bespaar. Insetverskaffers het egter die kuns vervolmaak om daardie besparings in hul eie sakke te kry. Net soos hulle wins in 'n goeie jaar in aandeelhouers en direkteure se sakke kanaliseer met die volgende seisoen se insette.
Agbiz en Agri SA kan dus die negatiewe syfer vir die landbou van 28% bevraagteken. Om wat te bereik? Verlaag dit na 20% om die indruk te wek dat dit nie so sleg gaan met die landbou nie? Jy weet nie wat met boere aangaan nie, want ongelukkig fokus jy net op wat ná die plaashek gebeur. Boere is trotse mense wat nie maklik praat oor hoe dit werklik gaan nie. Ek het die voorreg om met baie boere te praat en ek kan bevestig: dit gaan nie goed nie! Daar is baie onsekerheid en wanhoop.
Boere word voortdurend oorlaai met syfers en statistieke, voorspellings en aannames deur sogenaamde geleerdes. Ons is die mense wat die vuishou as dinge verkeerd loop. Almal na die plaashek kry steeds salarisse. Boere moet heeltyd hoor 'bly positief, wees veerkragtig, pas aan'... Dit kom van mense wat nie ons emosies en stryd om oorlewing verstaan nie. Boere is optimisties en positief, anders sou ons nie boer nie. Die natuurlike omgewing wat ons ken – goeie en slegte – risiko's is deel van ons bestaan, maar om uitgebuit te word, kan ons nie meer staan en stilbly nie.
Die twee pole
Boere word dikwels geblameer vir hoë voedselpryse, maar kom ek verduidelik:
Die aarde het 2 pole, Noord en Suid. Beskou die Suidpool as die produsente en die Noordpool as die verbruiker. Die Suidpool (produsent) is 'n prysnemer, hy bepaal geen prys, inset of uitset nie. Die Noordpool (verbruiker) betaal wat hy gevra word. In die middel is 'n vet pens wat bepaal. As die pole vernietig word, draai dit van sy as af en stort inmekaar. Dit klink omstrede en ek sal gekritiseer word, maar dit is tyd om wakker te word en die gevolge in die gesig te staar! Maak jou oë oop en praat direk met die boer. Pasop om net na die sogenaamde groot prominente boere te gaan, daar is baie ander boere ook en niemand gaan gespaar word nie. Sommige oorleef dalk net 'n bietjie langer – dit is vir almal onvolhoubaar.
Daar is baie meer om te sê, maar kom ons begin hier. Ek pleit: as jy in die middel is en kwaad of geteiken voel, kom ons praat. Dit is egter nie net 'n Suid-Afrikaanse probleem nie, dit is 'n globale probleem. Boere word oral uitgebuit en beskuldig. Kom ons probeer dit regmaak. Ons sien wat in ander lande gebeur...
Francois Wilken
Boer en President van Vrystaat Landbou
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
4Plasings
160Plasings
10Plasings
5Plasings
Ⓒ 2025 Vrystaat Landbou Alle regte voorbehou | Webwerf deur Splinternuut