
Vrystaat Landbou verwelkom die steun wat president Trump vandeesweek aan die landbousektor toegesê het. Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, is die organisasie bemoedig dat die Amerikaanse regering gehoor gegee het aan die pleidooie van Suid-Afrikaanse boere en erken dat boere se veiligheid en eiendomsreg deur die ANC-geleide regering bedreig word. Die bewering dat president Trump en sekretaris Rubio “vandeesweek valslik beweer het dat owerhede in Suid-Afrika private eiendom konfiskeer” is self verkeerd. Terwyl konfiskering kan uitloop op werklike grondonteiening, begin die proses met beleide en wetgewing wat gevestigde eiendomsreg erodeer of verswak.
Die feit bly staan dat Suid-Afrika se nuwe Onteieningswet staatsliggame in staat stel om grond en ander bates te onteien sonder om markverwante vergoeding te betaal. Die terminologie wat mnr. Trump en mnr. Rubio gebruik is dus akkuraat, selfs al is spesifieke pakke grond in Suid-Afrika nog nie onteien nie. “As landbou-organisasie staan Vrystaat Landbou gereed om enige bystand en ondersteuning vir die boerderysektor en ons boere te aanvaar. Veral wanneer hulp deur die Verenigde State en president Donald Trump aangebied word, moet ons dit verwelkom. Verder is ons ook bereid om plaaslik saam te werk met enige individu of organisasie wat kan help om die veiligheid, eiendomsregte en toekoms van ons boere te verseker,” het Wilken gesê.
President Trump se aankondiging dat boere en Afrikaners voortaan vir vlugtelingstatus in die Verenigde State in aanmerking sal kom, dien as 'n wekroep vir die regering, landbou-organisasies en alle gemeenskappe in Suid-Afrika. Plaasmoorde en landelike veiligheid is al vir meer as 30 jaar 'n werklikheid, maar nie een van ons pogings om aksie van die ANC-regering aan te spoor het blywende resultate opgelewer nie.
Ons bly weerloos teen misdadigers wat al dekades lank ons vee steel en groot dele van ons oeste plunder, terwyl die polisie ons nie kan bystaan nie.
Boere word al 30 jaar lank geteiken deur radikale linkse politici wat hul ondersteuners deur haatspraak teen boere en die landbousektor aangehits het. Vir drie dekades is hierdie probleme ontken, verwerp en geïgnoreer deur 'n politieke elite wat ons land kaal gestroop en die landelike ekonomie verlaat het. Nou is nie net ons besittings nie, maar ook ons ekonomiese voortbestaan in gevaar as gevolg van die nuwe Onteieningswet.
Hoewel grond nog nie deur die staat gekonfiskeer is nie, stel die Onteieningswet die regering in staat om beslag te lê op enige eiendom – grond, geld, huise, voertuie, en meer. Daarom is die regering se versekering dat bates nie gekonfiskeer sal word nie, eenvoudig nie geloofwaardig nie.
Vrystaat Landbou staan gereed en wag op die geleentheid om te sien hoe Suid-Afrikaanse boere en die Verenigde State ’n konstruktiewe pad vorentoe kan slaan om ons toekoms en dié van Suid-Afrika te verseker.
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
4Plasings
160Plasings
10Plasings
5Plasings
Ⓒ 2025 Vrystaat Landbou Alle regte voorbehou | Webwerf deur Splinternuut