Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaatse boere is raadop oor toenemende mieliediefstal

deel hierdie plasing

Boere in die Vrystaat is raadop met die toenemende diefstal van mielies wat in verskeie dele van die provinsie voorkom.

Rudi Jansen van Vuuren, veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) in die Allanridge/Odendaalsrus-omgewing, sê in hul omgewing is daar beslis 'n toename in die tipe diefstal vergeleke met vorige jare. Hy sê sommige boere bestee soveel as R200 000 aan veiligheidswagte om velde te bewaak, maar selfs dié optrede skrik nie altyd die misdadigers af nie.

“Kommerwekkend is die groot getalle misdadigers wat die veld toeslaan. Ons het gevalle gehad waar taxi's vyf groepe van tussen agt en vyftien mense aflaai en weer oplaai. Die misdadigers oorrompel bloot die veiligheidswag, steel die toerusting waarmee die wag moet kommunikeer en dreig selfs die boere.” Janse van Vuuren sê verder in van die gevalle is die veiligheidswagte self ook by die diefstal betrokke. “Sekere wagte is reeds uit diens ontslaan aangesien boere hul betrokkenheid opmerk. In die meeste gevalle het boere wel gerapporteer dat die wagte 'n groot uitgawe is, maar dat hulle wel help om die impak van hierdie tipe diefstal te beperk.”

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê daar is ook ander dele van die provinsie wat deur hierdie misdaad geraak word. Gerapporteerde gebiede wat gedurende Maart en April 2024 geraak is, is onder andere Bethlehem, Bloemfontein, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Fouriesburg, Jacobsdal, Koppies, Odendaalsrus, Reitz, Sasolburg/Zamdela (veral in die Wolwehoek-omgewing), Villiers en Wesselsbron. Buys sê volgens inligting word plase in die Fouriesburg-omgewing geteiken deur Basothos wat vanuit Lesotho bedrywig is. “Hulle steel mielies in sakke, sit dit op donkies se rug en beweeg dan so oor die grens. Waar boere hulle konfronteer, hardloop hulle weg en die donkies en mielies word teruggevind. Hierdie tipe voorvalle vind gewoonlik in die nag plaas.”

Buys voeg by dat in baie gevalle egter min arrestasies plaasvind. “As arrestasies wel plaasvind, wil dit voorkom asof bewyslas 'n groot probleem is en sake in die howe uitgegooi word. Boere is uiters gefrustreerd. Hulle moet in die nag patrollies ry en dikwels is die misdadigers gewapen, wat ’n groot veiligheidsrisiko vir hulle inhou”.

“Groot ingrypings deur die boeregemeenskap in samewerking met die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is nodig om hierdie tipe misdaad doeltreffend aan te spreek. Die impak en omvang van die tipe misdaad in die gebied dui daarop dat die misdaad op 'n georganiseerde wyse plaasvind en dat dit as 'n georganiseerde misdaad geklassifiseer en deur beide die SAPD en NVG ondersoek moet word.” 

Vrystaat Landbou sal die boerderygemeenskappe bystaan met die opstel en fasilitering van die intervensiegesprekke.