Wat ons doen

Wat ons doen

Om die vraag “Wat doen Vrystaat Landbou” te beantwoord, is dit belangrik om eers te verstaan wie Vrystaat Landbou is.

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit. Plaaslike landbouverenigings hanteer plaaslike aangeleenthede namens hul lede ingevolge die grondwet van die landbouvereniging. Op hierdie vlak word die Landelike Veiligheidsplan geïmplementeer, werk die grondvlakstrukture van Brandbeskermingsverenigings (BBVs) saam en word gemeenskapsprojekte soos infrastruktuur, munisipale skakeling en so meer aangespreek. Landbouverenigings is die gom wat die landbougemeenskap op voetsoolvlak aanmekaar hou.

Kommoditeitsinstellings funksioneer ook op verenigingsvlak deur die samestelling van ʼn kommoditeit-spesifieke studiegroep uit lede van die vereniging wat by vergaderings terugvoer oor hul kommoditeit gee.

Goed funksionerende en aktiewe landbouverenigings is dus die hartklop van die ganse georganiseerde landbou.

farm

Die komitee fasiliteer deurlopend die implementering van die Landelike Veiligheid strategie met die identifisering van tekortkominge, in samewerking met die SA Polisiediens, in landelike gebiede/plaasgemeenskappe. Elke dorp se plaasgemeenskap moet ʼn sektorveiligheidsplan hê wat deur veiligheidsverteenwoordigers en koördineerders van boereverenigings en die plaaslike polisiestasie gefasiliteer word ten opsigte van die uitvoering van wit-/blouligpatrollies, plaasbesoeke, oefeninge, bewustheidsveldtogte en maandelikse vergaderings rakende misdaadgevare. Die konsolidasie van die impak/omvang van alle misdaad, insluitend plaasaanvalle, diefstal van vee, skroot, koperkabels, implemente en produkte asook onwettige jag met honde word maandeliks gedoen en deurgegee vir die nodige ingryping deur die polisie.

Dr Jane Buys | jane@vslandbou.co.za

Die Agri Securitas Trustfonds is deur Agri SA op die been gebring en hierdeur maak verskeie maatskappye finansiële bydraes vir die bevordering van landelike veiligheid. Dit word gedoen deur gedeeltelike finansiering van tegnologiese hulpmiddels soos onder meer radiokommunikasiestelsels, kamerastelsels, sekerheidstoerusting, en traumaberading vir slagoffers van geweldsmisdaad (plaasaanvalle). Boereverenigings doen via Vrystaat Landbou skriftelik aansoek om bystand by Agri SA.

Elize Spence | elize@vslandbou.co.za

Spreek kwessies aan rakende grond, verblyfreg, munisipale skakeling (meentgrond) en landelike ontwikkeling

Oogmerke:

  • Verskaf bystand aan lede wat geraak word deur wetgewing in verband met grondhervorming, soos wette op vergoeding, herverdeling, onteiening en verblyfregsekerheid, en speel ʼn aktiewe rol by steunwerwing teen onredelike wysigings en regulasies van hierdie beleide
  • Gee leiding in doeltreffende grondhervorming, ontwikkeling van nuwe boere en sektortransformasie binne die strekking van die Grondwet van die RSA EN ingevolge Vrystaat Landbou se Grondbeleid
  • Vestig en bestuur stelsels en strukture wat landelike gemeenskappe verenig om te mobiliseer rondom optrede wat landbou en landbougemeenskappe dien (bv. insette tot institusionele ontwikkelingsplanne (IDPs), brugbou-aksies vir meentgrondboere, steunwerwing vir afvalbestuur- en afvalwaterbehandelingspersele wat goed bedryf word om brande en besoedeling van nabygeleë en afstroomboere te voorkom) 

Deurlopende werksaamhede van die kantoorpersoneel:

  • Neem aktief deel aan die Agri SA Sentrum van Uitnemendheid:Grond deur ʼn aktiewe en doeltreffende Provinsiale Komitee 
  • Gee bystand aan lede wat geraak word deur wetgewing rakende grondhervorming (veg vir die beskerming van eiendomsregte) 
  • Gee leiding aan lede wat vrywillig deelneem aan grondhervorming / AgriBEE / werkerbemagtiging
  • Hersien en lewer kommentaar oor voorgestelde beleidveranderings (via Agri SA)
  • Verleen hulp met markverwante grondhervormingsinisiatiewe deur NROs en Ontwikkelingsagentskappe (dien in rade/ forums / komitees)
  • Help met leiding en koördinering van sektortransformasie deur skakeling met akademici, dinkskrums in die private sektor, kommoditeitsverenigings en afdelings vir grondhervorming / ontwikkeling van nuwe boere in die sfeer van agribesigheid 
  • Hou die regering aanspreeklik (waghondfunksie) met die implementering van planne vir grondhervorming, landbou en landelike ontwikkeling 
  • Verteenwoordiging in en koördinering van Distriksgrondhervormingstrukture
  • Munisipale Landbouforumkanale (COGTA) IDPs, LED, Kleindorpvernuwing (SALGA) – met sakekamers
  • Fasiliteer internskappe en vakleerlingskappe by regering en opleidingsinstellings – JobsFund, Agri SETAs, TVET-uitbreiding, Glen Kollege
  • Verteenwoordiging in Provinsiale AgriBEE Forum 
  • Landbouverwerkingsforums (DESTEA-skakeling)

Veldtogte en Spesiale Projekte:

  • Neem aktief deel aan die finalisering van die Wetsontwerp op Onteiening asook ander nuwe wetgewing (veldtogte en beleidsbeïnvloeding)
  • Raak betrokke by die Premier en Departemente van Grondsake, Ekonomiese Ontwikkeling, Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Behuising, Polisie, Paaie en Vervoer asook Landbou om te bepaal hoe hulle voornemens is om landelike ontwikkeling te bevorder en hoe hulle die landbousektor betrokke wil hê
  • Promoveer suksesverhale oor vordering ten opsigte van Grond en Plaaswerkers as deel van ʼn mediaveldtog

Dr Jack Armor | jack@vslandbou.co.za

Vrystaat Landbou se Jongboer-komitee is op 3 Augustus 1985 gestig. Die komitee bied ʼn tuiste vir jong boere binne die strukture van Vrystaat Landbou waar ʼn platform geskep word om hul unieke menings en probleme uit te druk, om ʼn toekomsvisie met die res van landbou te deel, en om as spreekbuis vir ontwikkeling van jong boere te dien.

Die eerste Jongboer van die Jaar-kompetisie het in 1996 plaasgevind. Die doel van dié kompetisie is om jong boere deur georganiseerde landbou te bemagtig vir volhoubare groei. Die kompetisie maak dit vir die jong boer moontlik om op aspekte van sy boerdery te fokus wat voorheen as vanselfsprekend aanvaar is.

Inskrywingsvorm vir 2023-kompetisie kan gevind word hier

Elize Spence | elize@vslandbou.co.za

Spreek kwessies aan wat verband hou met plaasbestuur (belasting, eiendomsbelasting, finansies, beste praktyk vir produksie en bemarking, landboudata en statistiek, ens.) en infrastruktuur (paaie, spoorweë, energie en telekommunikasie)

Oogmerke:

Om steun te werf vir ’n omgewing wat boere bemagtig om besigheid te doen, deur:

  • Staatsdepartemente en private verskaffers aanspreeklik te hou vir die verbetering en instandhouding van kritieke infrastruktuur; telekommunikasie-, energie- en vervoernetwerke
  • Aktief betrokke te wees by data-inisiatiewe en besprekings om prysverhoging tot ʼn minimum te beperk en dienslewering te monitor (SARS, Tesourie, Ouditeur-Generaal, NERSA, PASA, Stats SA, DWS-watertariewe en COGTA/SALGA munisipale eiendomsbelasting)
  • Sterk en gekoördineerde strukture te vestig vir aktiewe munisipale skakeling (eiendomsbelasting, waardasies, IDP, LED en afbakening, SPLUM) wat bydra tot die distrikontwikkelingsmodel om beplanning, koördinering en begrotings oor al 3 sfere van regering te integreer
  • Om lede se veerkragtigheid te verbeter na terugslae weens rampe wat hul boerdery tref, en om steun te werf vir doeltreffende rampverligting

Deurlopende werksaamhede van die kantoorpersoneel:

  • Steunwerwing by NERSA vir laer elektrisiteitskoste en betrokkenheid by ESKOM rakende invoer van alternatiewe energie in die netwerk, vastelynfooie en brandrisiko
  • Fasiliteer die uitrol van die nuwe dieselrabatstelsel na lede wanneer dit gereed is (verspreiding en interpretasie van inligting) 
  • Help lede met SARS-verwante aangeleenthede (belasting, BTW, dieselrabat); betrokkenheid by en inligting aan lede oor veranderings in belastingwetgewing 
  • Stats SA – help met data-insameling ooreenkomstig die protokol vir toegang tot plase en stel lede in kennis van belangrike opnames en interpretasie van resultate vir beter besluitneming in landbou. Skakel met Stats SA rakende die insameling van datavelde wat nodig is vir beter besluitneming in landbou.
  • Hanteer en verwys infrastruktuur-verwante aangeleenthede (telekom, energie en vervoer) na die gepaste kanale
  • Help en gee leiding aan lede ten opsigte van aktiewe burgery in al 3 sfere van regering
  • Vestig en bestuur ʼn doeltreffende kommunikasienetwerk van landbouvereniging na munisipaliteit na distriksmunisipaliteit

Veldtogte en Spesiale Projekte:

  • Beter koördinering van aksies met instandhouding en herstel van paaie – WhatsApp-groepe vir “virtuele” distrikspaaie-rade
  • Teenstand teen SALGA se aansoek om munisipaliteite tussengangers tussen Eskom en boere te maak
  • Herlewing van plaaslike landbou- / gemeenskapsforums om regering op grondvlak aanspreeklik te hou en met dienslewering te help

Lewer omvattende insette tot en fasiliteer die implementering van die Landboumeesterplan in die Vrystaat

Dr Jack Armor | jack@vslandbou.co.za

Die komitee is hoofsaaklik betrokke by die volgende:

-Verskaf inligting aangaande arbeidswetgewing, sektorbepalings asook ooreenkomste wat verband hou met die nasionale minimumloon, arbeidskontrakte en verblyfreg

-Algemene advies, skakeling met en navrae rakende die Departement van Indiensneming en Arbeid

-Navrae aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie

-Let wel: Geen formele optrede by Forums nie

Gernie Botha | gernie@vslandbou.co.za

Spreek aangeleenthede aan wat verband hou met water, mynbou en minerale, en rampe (vloede en brande, klimaat, plae en siektes) 

Oogmerke:

  • Kommunikeer toepaslike inligting in verband met natuurlike hulpbronne duidelik aan lede – beleidsontwikkeling en nuwe navorsing / literatuur 
  • Help besproeiingsboere met waterverwante kwessies en help om hul waterregte en reg op veilige water te beskerm
  • Bevorder volhoubare boerdery- en bewaringspraktyke
  • Beskerm landbougrond teen die nadelige gevolge van mynbou en ontwikkeling op die omgewing en water 
  • Verbeter rampveerkragtigheid en verminder risiko 
  • Vervul “waghond”-funksie vir administratiewe geregtigheid deur die regering (Departemente van Minerale en Energie, Water en Sanitasie, Omgewing, Landbou) 

Deurlopende werksaamhede van die kantoorpersoneel:

  • Woon kwartaallikse vergaderings van die CCAW (Koördinerende Komitee vir Landbouwater) asook halfjaarlikse Oranje en Vaal Statusverslagvergaderings by, help boere om vir nuwe waterregte aansoek te doen
  • Help lede met probleme wat verband hou met waterlisensies en help om hul waterregte te beskerm
  • Bestuur verskeie WhatsApp-groepe bestaande uit boereverenigings se verteenwoordigers vir besproeiingsboere, opvangbestuurforums, brand- en sprinkaanbeheerbeamptes, rampverligting ens. 
  • Neem deel aan werksaamhede van die provinsiale rampbestuur-taakspan
  • Skakel met VPA en Eskom rakende brande
  • Help lede met indringer-, migrerende en probleemspesies en help om grondbewaring te bevorder.

Veldtogte en Spesiale Projekte:

  • Ramphulpveldtogte – hou interne beleid, finansies en aksieplanne op datum
  • Water – beskerm lede se waterregte, plaas druk op DWS om waardasie en verifikasie af te handel, verseker produktiewe, volhoubare, regverdige en billike hervorming van watertoewysing. Betrek houers van waterregte wat nie lid van watergebruikersverenigings is nie
  • Implementeer mandaat en protokol ten opsigte van mynbou en prospektering om lede wat geraak word ten beste te bedien en te help – loods fondsinsameling indien nodig

Dr Jack Armor | jack@vslandbou.co.za