Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL dring aan op taakspanne om paaie-uitdagings in die provinsie te ondersoek

deel hierdie plasing

"Boere se frustrasievlakke styg steeds omdat hulle geen van die beloofde verbeterings in die plattelandse paaie sien wat aanhoudend afneem nie! Dit noop boere om in te spring en basiese herstelwerk te doen of self skraperoperateurs te betaal, net sodat paaie rybaar is,” sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL) uit ernstige kommer oor die toenemende koste om sake te doen in die landelike Vrystaat.

VL het op Vrydag 23 Februarie 2024 met die HOD, Direkteure en Distrikpadingenieurs van die Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer vergader waar hierdie en ander bekommernisse geopper en aangespreek is.

 “Ons verwelkom die erkenning van sekere kritieke probleme met ons landelike paaie en die aanstelling van spesifieke taakspanne om dit aan te spreek,” sê Gernie Botha, HUB van VL. “Ons neem egter ook met ernstige kommer kennis van die groot agterstand en baie beperkte begroting wat die departement het om ons paaie reg te maak, met erkenning van die vordering met beperkte begroting waar dit bestee is,” sê Botha. Die volgende taakspanne is deur die HOD opgeroep met 'n bevel om binne die volgende maand byeen te kom om met oplossings vorendag te kom: 1)Die Lesotho-grenspad en 2) Wetlikheid om swaar vragmotors van paaie af te hou wat nie vir swaar verkeer ontwerp is nie.

Dr Jack Armour, Kommersiële Bestuurder by VL het beklemtoon dat baie beter kommunikasie en deursigtigheid in die begroting, beplanning en verkrygingsproses nodig is vir die landbougemeenskap om vertroue in die Departement te herstel. “Kritieke kwessies word egter steeds nie aangespreek nie,” het Armour uit kommer aan die HOD gesê, naamlik:

  1. 'n Konkrete aksieplan om verstopte dreine aan te spreek en stukkende wegvoerpype te herstel wat water van ons paaie af weglei, ontbreek steeds. VL het reeds sulke voorgestelde planne ingedien.
  2. Verkryging van skraperoperateurs en pik-en-graaf werkers op die grond om die basiese instandhoudingswerk te doen, soos die aanspreek van verstopte dreine, is steeds nie beskikbaar nie alhoewel dit reeds etlike jare uitgewys word dat hierdie die hoofkwessies is wat ons paaie vernietig.
  3. Die verkrygingsproses om dienslewering te bespoedig; veral waar noodherstelwerk gedoen moet word. VL het die Aberfeldy-staalbrug meer as 'n jaar gelede by die dept aangemeld en tenders is gepubliseer, op die kortlys geplaas en toe weer gekanselleer en tot op hede is geen werk aan die brug gedoen nie!
  4. Met betrekking tot die aanstelling van Raadgewende Ingenieurs om toesig te hou oor die werk wat deur CDP (Contractor Development Programme) kontrakteurs gedoen word en die gebruik van EPWP-werkers om basiese padherstelwerk te doen, het die HOD volgehou dat dit 'n politieke EXCO-besluit was en nie maklik verander kan word nie. Verder het die HOD bygevoeg dat die meeste van die huidige slaggat-herstelwerk deur middel van 'n MOU met die SUT gedoen word en werk word onder toesig van gekwalifiseerde Ingenieurspersoneel uitgevoer.    

Een stukkie goeie nuus was dat die HOD aangedui het dat daar moontlik 6 nuwe skrapers vir die Departement aangekoop word om in die nabye toekoms in die distrikte te gebruik. Verder ook dat 'n nuwe direkteur aangestel is om die afdeling vir instandhouding en herstel van die geel vloot aan te spreek.