Veldtogte

Beskerm jou eiendomsreg

Stop wysigings aan die Grondwet

Die wysiging van artikel 25 van die Grondwet bedreig die eiendomsreg van alle burgers van die land. Die wysiging sal die beginsel vestig waar onteiening van onroerende eiendom moontlik is vir doeleindes van grondhervorming sonder vergoeding.

Help Vrystaat Landbou om hierdie wysiging van die Grondwet te stop. Vul die vorm hieronder in sodat jou teenkanting teen die grondwetwysiging aan die Parlement gestuur kan word.

Hiermee wil ek my teenkanting teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet uitspreek. Ek ondersteun Vrystaat Landbou se voorlegging en pogings om die grondwetwysiging te stop.

“Eiendomsregte is onlosmaaklik deel van menseregte, en geen staat het die reg om mense daarvan te vervreem nie.” Dit is die standpunt van Vrystaat Landbou President, Francois Wilken, nadat die Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp, 2021, vir openbare kommentaar gepubliseer is.

Die Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp sal die staat in staat stel om enige grond en sy verbeterings vir doeleindes van grondhervorming sonder vergoeding te onteien.

Volgens Wilken sal die aanvaarding van hierdie wysiging 'n waterskeiding in die grondwetlike bestel van die land verteenwoordig. Hierdie verandering sal die beginsel vestig dat 'n burger se eiendom sonder vergoeding deur die staat onteien kan word. Dit is 'n onreg.

Argumente dat eienaars deur wette, beperkings en prosesse teen uitbuiting beskerm sal word, hou nie water nie. “Ongeag die risiko’s wat deur die korrupte en vallende staatsadministrasie daargestel word, is eiendomsreg ’n beginselsaak en nie ’n prosedurele aangeleentheid nie. Ons moet dit ten alle koste beskerm,” het Wilken gesê.

Vrystaat Landbou sal dus die grondwetwysiging tydens die openbare deelnameprosesse teëstaan en, indien nodig, alles wetlik moontlik doen om die wysiging te stop.