Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Landbou sal nie 20.5% Eskom verhoging oorleef nie!

deel hierdie plasing

“Dit is onaanvaarbaar dat Eskom se verliese wat deur korrupsie veroorsaak word van betalende klante verhaal word,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). Die organisasie se reaksie volg op ESKOM se versoek aan NERSA om elektrisiteitskoste vanaf 1 April 2022 met 20.5% te verhoog.

Wilken het verwys na die verliese van onder meer die Medupi- en Kusile-kragstasies, steenkoolkontrakte, asook die R37 miljard wat munisipaliteite skuld. “ESKOM druk daarop om te verseker dat elektrisiteitspryse teen 1 April 2022 geïmplementeer kan word. Hulle wil dus die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se goedgekeurde tarief voor 15 Maart 2022 by die Parlement indien.”

Dr Jack Armour, Kommersiële Bestuurder van VL, wys daarop dat ESKOM se aansoek by NERSA drie afsonderlike dokumente bevat wat aansoek doen vir prysverhogings in kragopwekking, transmissie en verspreiding. “Die ontbondeling waarna president Ramaphosa in die SONA verwys het, duur dus voort.”

Armour glo dat die kompetisie vir Eskom vir opwekking steeds straf sal wees, ondanks die R131 miljard-inspuiting wat tydens COP-26 aan Suid-Afrika belowe is om 'n oorgang na groenkrag te help bewerkstellig. “Die publiek kan nie verantwoordelik wees vir die finansiering van ESKOM om sy eie alternatiewe kragopwekkingsvermoë uit te brei in mededinging met die private sektor nie.”

Vrystaat Landbou doen jaarliks voorleggings aan NERSA om ESKOM se voorstelle vir drastiese prysstygings teë te staan. NERSA versoek VL jaarliks om ekonometriese en makro-ekonomiese ontledings te verskaf oor die pryselastisiteit van landboukommoditeite se insetkoste teen kragprysstygings, asook die drempelprys van ESKOM waarteen boere na alternatiewe energie-opsies sal oorskakel. "Daar is egter ontledings wat afhang van baie faktore wat in landbouproduksie speel en VL het NERSA daarop gewys dat hulle self so 'n studie sal moet finansier," sê Armour.

Vrystaat Landbou sal 'n skriftelike voorlegging aan NERSA doen teen die sperdatum van 14 Januarie 2022. Die organisasie sal ook tydens die openbare verhore 'n amptelike voorlegging aan NERSA doen om die niksseggende voorstelle teë te staan.

“Landbou sal nie die ESKOM-verhogings, indien goedgekeur, saam met al die ander stygende insetkoste oorleef nie!” Wilken glo.