Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaat Landbou veroordeel moord op Harrismith boer en familie

deel hierdie plasing

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie veroordeel die moorde wat Saterdag, 7 Augustus 2021 op die plaas 'Toekoms' in die Harrismith-omgewing plaasgevind het, ten sterkste. Mgwenika Twala, ’n opkomende boer, asook sy vrou, Selina Maloka, en drie kinders van 6, 16 en 19 jaar oud is wreed vermoor. Hulle is verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek. Die gesin is een van verskeie wat op 'n plaas woon wat deur die regering in 'n grondeis aan begunstigdes toegeken is. Die motief vir die moorde is onbekend.

“’n Veilige en volhoubare landbousektor is deurslaggewend vir voedselsekerheid en sulke wrede moorde waar vroue en kinders ook die slagoffers van ernstige geweldsmisdade word, word ten sterkste veroordeel en moet met die grootste erns deur die strafregstelsel beveg word.” sê Wilken.

Tommie Esterhuyse, visepresident van Vrystaat Landbou, het die polisie bedank vir hul flinke optrede deurdat twee mense reeds vir die moorde in hegtenis geneem is. “Die landbousektor kan nie sulke barbaarse optrede teen enige produsent toelaat nie, hetsy kommersiële, opkomende of bestaansboere, hul gesinne en inwoners op plase.” sê Esterhuyse.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, doen 'n beroep op alle produsente, insluitend opkomende boere, bestaansboere sowel as nedersettings waar mense woon, om hulself te organiseer en deel te vorm van die Landelike Veiligheidstrategie en waar moontlik by strukture soos Gemeenskapspolisiëring betrokke te raak. Forums. Dit is belangrik dat sulke gemeenskappe ook betrokke raak om die misdaadgolf wat landelike gemeenskappe teiken, saam met die polisie doeltreffend aan te spreek.