Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaat Landbou eis sterk optrede deur wetstoepassers teen miltsiekte

deel hierdie plasing

31 Mei 2019

“Vrystaat Landbou (VL) spreek ernstige kommer uit oor die uitbreek van miltsiekte in Lesotho. Dit kan katastrofiese gevolge vir die vleisbedryf in die provinsie hê,” het Francois Wilken, president van VL, gesê nadat 'n uitbreking van die siekte naby Maseru in Lesotho bevestig is.

Volgens hom het VL oor ’n tydperk van 15 jaar probeer om die regering binne en buite die hof bewus te maak van die gevare by die Lesotho-grens. “Dit het dikwels niks tot gevolg gehad nie en owerhede het weggestap van hul verantwoordelikhede om hul burgers te beskerm in situasies soos dié wat nou opduik.” Hy meen die owerhede het herhaaldelik bevele deur die hof wat aan hulle opgelê is, verontagsaam en die finansiële las het te veel geword vir VL om voort te gaan in howe.

“Saam met ander rolspelers in die bedryf eis ons sterk optrede en verantwoordelikheid van die Departement van Landbou en wetstoepassing om die dreigende krisis met die nodige erns aan te spreek,” het Wilken gesê.

Om slegs 'n verbod op die invoer van vee en wol te plaas, sal nie die probleem aanspreek nie. “Groot probleme by die grens is veediefstal en onwettige beweiding van vee uit Lesotho. Dit moet gesamentlik deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en veeartse onder die Departement van Landbou aangespreek word deur die nodige ponde in te stel. Die meeste van die vee gaan onwettig die grens oor en nie deur wettige toegangsroetes of grensposte nie.”

Nog ’n bekommernis vir VL is die groeiende gevalle van plaasaanvalle deur Lesotho-burgers op boere in die Vrystaat, en selfs so ver as die Wes-Kaap. Volgens Wilken sal VL hierdie kwessie so gou moontlik met die nodige staatsinstellings opneem. “Ons doen ’n beroep op ons lede om alle relevante inligting aan VL se kantoor te verskaf, sodat ’n doelgerigte aksie van stapel gestuur kan word.”