Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Baanbrekende ontmoeting tussen landboustrukture en Fidelity ADT verhoog landelike veiligheid

deel hierdie plasing

6 Mei 2019

'n Baanbrekersvergadering en 'n eerste stap om veiligheid en misdaad in landelike gebiede op 'n hoër vlak aan te spreek. Só het Jakkals le Roux, Voorsitter van die Landelike Veiligheidskomitee by Vrystaat Landbou (VL), 'n belangrike vergadering tussen die georganiseerde landbou en Fidelity ADT beskryf.

Die doel van die vergadering, tussen Fidelity ADT, VL, Agri Noord-Kaap, die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat en Noord-Kaap, en Agri SA, was om kwessies van groter veiligheid en die bekamping van misdaad op die kommersiële landbousektor in die Vrystaat en Noord-Kaap. Die voorkoming van ernstige gewelds- en eiendomsverwante misdade vorm deel hiervan. Die vergadering het op 29 April 2019 by die Middelwater Plaas Hotel buite Bloemfontein plaasgevind.

Tommie Esterhuyse, Voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, het gesê die betrokkenheid en uitbreiding van Fidelity ADT se landelike voetspoor, in samewerking met boere, sal lei tot 'n "wen-wen situasie" op alle gebiede. Esterhuyse is ook visepresident van VL.

Fidelity ADT het ten doel om samewerking en vennootskappe in landbougemeenskappe in die twee provinsies uit te brei deur samewerking tussen bestaande plaaswagte en Fidelity ADT-beheerkamers te bevorder. Wahl Bartmann, Hoof Uitvoerende Beampte van die Fidelity Services Group, en sy span kundiges het die vergadering bygewoon. Alle streekveiligheidsverteenwoordigers van VL, afgevaardigdes van Agri Noord-Kaap en die RPO was ook teenwoordig.

Die toename in veral eiendomsverwante misdade op landbougrond, waarvan veediefstal die grootste georganiseerde misdaad is, sal deur groter tegnologiese hulpmiddels, verbeterde inligtingsvloei en groter toegang tot private sekuriteit aangespreek word.

Die integrasie van kamerastelsels en inligting van bestaande plaaswagte, die identifisering van hoë misdaadgebiede, asook die opleiding van lede van landbouverenigings en areakantore van georganiseerde landboustrukture is bespreek.

Volgens Le Roux is 'n taakspan saamgestel om maandeliks te vergader oor die vordering van implementering, die vloei van inligting en aspekte om veiligheid en misdade met verbeterde tegnologiese hulpmiddels te integreer en ook 'n behoeftebepaling te doen.

Alle aksies wat onderneem word, word uitgevoer in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), binne die raamwerk van die hersiene Landelike Veiligheidstrategie.

Een daarvan, wat binnekort van stapel gestuur sal word, is geïntegreerde vergaderings met alle plaaswagte, sekuriteitsmaatskappye en die SAPD betrokke by landelike en landbougemeenskappe by veiligheid en misdaad binne georganiseerde landboustrukture.

Joe Scholtz en Johann Stadler, onderskeidelik van die RPO se Veediefstalvoorkomingsforums in Agri Noord-Kaap en die Vrystaat, is oortuig dat hierdie ooreenkoms landbougemeenskappe sal bemagtig om hul diens, betrokkenheid en integrasie te verbeter.

Agri Securitas se befondsing van tegnologiestelsels in hoë-misdaadgebiede in landelike streke was ook 'n hoë prioriteit op die vergadering.

"Dit is nie net 'n praktiese kwessie wat landelike gemeenskappe bevoordeel nie, maar beklemtoon die erns waarmee landelike misdaad aangespreek moet word," het Esterhuyse gesê. “Die betrokkenheid van grondvlakstrukture, wat bydra tot die sukses om landelike misdaad te voorkom en te bekamp, kan nie oorbeklemtoon word nie. Want veiligheid begin by jouself.”