Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Nuwe kommunikasiebeleid in FS in die stryd teen veediefstal

deel hierdie plasing

’n Nuwe kommunikasiebeleid is geformuleer om die hoofpyne van veediefstal meer doeltreffend in die Vrystaat aan te spreek. Die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die provinsie en Vrystaat Landbou (VL) het dit vir hul lede makliker gemaak om te weet watter riglyne om te volg wanneer hulle veediefstalprobleme ondervind.

Elkeen van hulle speel 'n spesifieke rol in die stryd teen veediefstal en dit is belangrik vir boere en ander om te weet wie om wanneer te kontak. Sodoende sal kommunikasie verbeter en probleme kan met groter sukses aangespreek word.

Rol van Veediefstalvoorkomingsforum

VL, die RPO en NWKV in die Vrystaat is deel van die Vrystaatse Veediefstalvoorkomingsforum (FSSTPF), wat help om doeltreffende maatreëls vir veeprodusente in plek te stel om diefstal te voorkom. Neville Raath, ondervoorsitter van die Vrystaatse RPO, is die voorsitter van die FSSTPF, terwyl Herman Archer voorsitter van die Vrystaatse NWKV is en Jakkals le Roux die voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee.

“Die forum, tesame met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en Nasionale Vervolgingsgesag, spreek reaktiewe veediefstalrapportering aan wat die voorkoming daarvan beïnvloed en om die suksesvolle vervolging van veediefstalsake in howe binne die strafregstelsel,” sê Raath. Volgens hom is mediabewusmakingsveldtogte, opleidingswerkswinkels om veeprodusente te bemagtig oor diere-identifikasie en riglyne vir veediefstal alles deel van die FSSTPF se aktiwiteite. Dit sluit ook interaksie en besoeke aan landbougemeenskappe in, asook deurlopende monitering van veediefstalsake.

"Die forum is ook deel van maandelikse vergaderings van die provinsiale landelike veiligheidsprioriteitkomitee en vergaderings elke twee maande van die Grensbeskermingsforum met die SANW," sê hy. Laasgenoemde bespreek oorgrensprobleme, uitdagings en tekortkominge by die Suid-Afrikaanse en Lesotho-grens, asook hoë misdaadgebiede en inligting oor toekomstige operasies.

Raath sê die forum beoog ook om Veediefstalinligtingsentrums by veral die toptien Vrystaatse veediefstalstasies te vestig, waar alle aspekte hierbo genoem ook gedesentraliseer is. Hier werk die FSSTPF nou saam met die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer se Sekretariaat vir Oorgrensveiligheid om Imbizo's onder kommunale en opkomende boere aan te bied. “Opleiding en bewustheid oor dieregesondheid, die merk van vee en nakoming van wetgewing by die SAPD kry dan spesifieke aandag.”

Probleme met ondersoeke

Die FSSTPF het ’n pro forma saamgestel wat boere kan gebruik wanneer hulle nie tevrede is met die ondersoek van die SAPD, en veral veediefstaleenhede nie.

“Die vorm moet skriftelik voltooi word en navrae word gedoen deur die kantoor van die Vrystaatse RPO, spesifiek Carine Annandale (vrystaatrpo@vodamail.co.za), aan die SAPD se provinsiale koördineerder van veediefstaleenhede,” sê Raath. Terugvoer word dan verkry en aan die spesifieke boer deurgegee.

Raath meld ook dat waar dringende ingryping nodig is, dit op die vorm aangedui moet word. 'n Voorbeeld is waar die SAPD of die betrokke veediefstaleenheid nog nie die misdaadtoneel besoek het nie, en kontak met die SAPD gemaak moet word.

Wie om wanneer te kontak

Alle voorvalle en inligting oor die manifestasie van veediefstal moet aan dr Jane Buys, VL se Veiligheids- en Risiko-ontleder gekommunikeer word. "Insidentinligting word gebruik in die voorbereiding van maandelikse veiligheidsoorsigte, wat ook aan die Landelike Veiligheidsprioriteitskomitee, gelei deur die FSSTPF, gekommunikeer word," sê sy. Volgens haar behels dit die identifisering van hoë misdaadgebiede, asook versoeke vir gesamentlike operasies.

Buys is aangestel as die skakeling namens die RPO, NWKV en VL met die media oor veediefstalstatistieke, verhogings of afnames, die organisasie daarvan, asook die impak en omvang van die probleem in die Vrystaat. Sy sal ook alle navrae hanteer vir artikels van akademici, die media en ander wat op veediefstal fokus.

Raath is namens die RPO Vrystaat as skakelpersoon met die media aangestel. Hy sal alle inligting oor hoëprofielsake van veediefstal met die media kommunikeer. Boonop kan hy ook gekontak word oor daaglikse veediefstalinligting in die provinsie.

“Hierdie riglyne sal aan lede van al die provinsiale organisasies gekommunikeer word, insluitend by VL se streekkonferensies, om hulle in te lig met wie om te kontak wanneer uitdagings van veediefstal in die gesig gestaar word en wat die kommunikasiekanale behels,” sê Raath.