Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Georganiseerde landbou moet lede se belange eerste stel, sê VL

deel hierdie plasing

“Die rol van georganiseerde landbou is nie om die staat of regerende party se politieke agenda te implementeer nie, maar om die belange van hul lede – die boerdery- en landbougemeenskap, eerste te stel.”

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), is dit belangrik om 'n veilige en volhoubare landbou-omgewing te skep, en dit kan slegs gebeur as georganiseerde landbou-organisasies verstaan dat hul rol insluit om regeringsbeleid te beïnvloed en indien nodig om daarteen op te staan .” Hierdie rol is vandeesweek weer bevestig tydens 'n VL Bestuursvergadering in Bloemfontein.

Om volhoubaar te wees, sal Vrystaat Landbou voortdurend daarna streef om die landbou se kommersiële rol in Suid-Afrika te versterk. “Landbou is verantwoordelik vir ’n beduidende bydrae tot Suid-Afrika se nasionale voedselmandjie, indiensneming en BBP en moet dienooreenkomstig hanteer en erken word.” sê Wilken. “Daarom sal ons (VL) geensins beleid ondersteun wat eiendomsreg en ekonomiese vryheid beperk nie, aangesien dit nie net tot werkverliese lei nie, maar ook die land se ekonomie 'gyselaar' hou en buitelandse beleggers afskrik.”

Die organisasie het ook bevestig dat sterk landboustrukture gevestig moet word om die voortbestaan van die landbou te verseker. “Goeie samewerking moet met gemeenskappe buite die politiek bewerkstellig word. Gemeenskappe het nou die geleentheid om beheer oor hul omgewings te neem aangesien die regering lomp en afwesig is. Ons kan nie meer alleen funksioneer nie. ” sê Wilken.

“Ons werk saam met die regering as ons kan, sonder hulle as dit moet, maar altyd met die doel om die belange van ons lede en die landbougemeenskap te bevorder.”