Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vinnige optrede deur die polisie lei tot herwinning van 50 skape in die Brandfort-omgewing

deel hierdie plasing

'n Veediefstal wat op 19 Februarie 2022 in die Brandfort-omgewing plaasgevind het, is vinnig en doeltreffend deur die SAPD se spesialiseenhede aangespreek.

Gedurende hierdie Sondagaand is 48 Dorper-ooie en 2 ramme ter waarde van R155 000 gesteel. Die vinnige aanmelding van die saak by die plaaslike polisie het daartoe gelei dat 'n Veediefstalspeurder, AO Grobbelaar en AO Oelofse van K9 (Honde-eenheid) met sy spoorsnyhond genaamd Ashton die spore vir 30 kilometer gevolg het. Hulle het 48 skape by die munisipale weikamp naby die dorpsgebied gevind wat in digte bosse versteek is, waar 'n tydelike kraal opgerig is. Alhoewel geen persone met die misdaad verbind kon word nie, is die skape deur die genoemde polisiebeamptes gevind en aan die regmatige eienaar terugbesorg.

Isabel Kruger van die Veediefstalvoorkomingsforum van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat bedank die Polisie vir hul flinke optrede, veral die spesialis-eenhede wat gelei het tot die herwinning van die vee. “Dit is sulke vinnige reaksie en optrede deur die polisie wat sal verseker dat boere se vertroue in die regstelsel sal verbeter.”

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), meld dat die Brandfort-area vir 'n geruime tyd 'n hoë misdaadgebied in die Vrystaat is ten opsigte van veediefstalvoorvalle. In die kalenderjaar 1 Januarie tot 31 Desember 2021 is meer as 1 080 beeste ter waarde van R6 miljoen in Brandfort gesteel. In 24 van die 53 gevalle is 10 tot 79 stuks vee op een slag van plase gesteel. “Dit wys weereens dat groot getalle vee op een slag van plase gesteel word, wat dit ’n georganiseerde misdaad maak wat tot groot verliese onder kommersiële boere lei.”

Verskeie ingrypings is deur beide die RPO, Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee sowel as die plaaslike boeregemeenskap versoek om die polisie se bystand te verkry om veediefstal doeltreffend te bekamp, betrokke misdadigers te voorkom en ook in hegtenis te neem. Verskeie arrestasies deur die polisie het in die meeste onlangse sake gevolg, hoewel dit wil voorkom asof van die veediewe nog nie gearresteer is nie, of dat daar goed georganiseerde groepe en/of sindikate betrokke is by die pleging van hierdie tipe misdaad in die gebied.

Kruger versoek weereens die polisie om alle leidrade op te volg om alle misdadigers wat veediefstal in die Brandfort-omgewing organiseer en uitvoer, te vervolg.