Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Korrupte uitsettings van boere en onbevoegde staat

deel hierdie plasing

Onlangs het die minister van staatsdiens en administrasie, Senzo Mchunu, aangekondig dat 35% van die senior staatsamptenare nie die nodige kwalifikasies het nie. Vrystaat Landbou (VL) het verlede week sy kommer uitgespreek oor die staat se onvermoë om die land behoorlik te regeer wat dienslewering betref. In hierdie klimaat wil die regering radikale ekonomiese wetgewing skep en die grondwet wysig. Die landbou sal nie toelaat dat die onreg ongetoets en sonder weerstand voortduur nie.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, is dit duidelik dat die regering onbevoeg is en uit 'n posisie van baie swak regering radikale wetgewing voorstel wat grond en ander eiendom in dieselfde swak regering sentraliseer.

Verder het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, tydens ’n vergadering met die Mkhuli-AfriForum-vereniging, bestaande uit die 37 boere, erken dat daar korrupsie in die departement is. Dit blyk dat boere hul huurkontrakte verloor het ná die eis dat hulle R250 000 elk aan 'administrasiegelde' moet betaal. Didiza het erken dat van die uitsettingsbevele duidelik krimineel was, en dat daar 'n gebrek aan kommunikasie tussen haar departement en boereverenigings was. Sy het verder erken dat uitsettingsbevele slegs met ministeriële goedkeuring uitgereik kan word – kommerwekkend afwesig in die geval van die 37 boere.

Vrystaat Landbou het reeds in Julie 2020 aan Didiza geskryf oor die eise vir 'administrasiegelde'. Boonop is boere se pogings om te onderhandel, soos in die geval van Thabani Nxumalo, geïgnoreer. Nxumalo het ’n skriftelike aanbod gemaak om uit sy pos as Eskom-ingenieur te bedank, nadat hy meegedeel is dat hy as staatsamptenaar nie kwalifiseer vir die staatsgrond waarop hy vir meer as 15 jaar boer nie. Nxumalo se aanbod is geïgnoreer en hy is bloot beveel om te vertrek.

Sulke gevalle dui op 'n kommerwekkende gebrek aan aanspreeklikheid van plaaslike regering, en 'n gebrek aan doeltreffende bestuur van staatsgrond. Met die dreigende wetsontwerp op onteiening sonder vergoeding wat nou voor die parlement lê, wek die saak van dié 37 boere ernstige vrae. “Gegewe bestaande korrupsie en onbevoegdheid in die bestuur van staatsgrond, wat is die implikasies sodra onteiening sonder vergoeding aan die gang gesit word? Die moontlikhede vir verdere korrupsie en wanbestuur lyk duidelik, met uiters ontwrigtende gevolge vir die lewens van alle opkomende en nuwe boere,” sê Wilken.

Vrystaat Landbou (VL) beskou die saak van bogenoemde 37 boere as 'n oproep om op te tree teen onteiening sonder vergoeding. Hierdie saak moet wys op die staat se onvermoë om sy plaaslike verteenwoordigers aanspreeklik te hou en korrupte praktyke te voorkom. Boonop het die potensiële omwenteling van boere se produksie aansienlike implikasies vir die hele land, aangesien sulke omwentelinge noodwendig in die mark weerspieël sal word. Dit is dus noodsaaklik om vas te staan teen onteiening sonder vergoeding, wat VL sal voortgaan om te doen.