
Boere hoop op nog drie weke se genade teen die winterkoue sodat laat oeste hul volle potensiaal kan bereik. Die afgelope drie oggende het ryp reeds in die laagliggende dele van die Suid-Vrystaat voorgekom.
Volgens Johan Fourie, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), het nagtemperature in laagliggende dele van Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus laag gedaal en het ryp die afgelope drie nagte voorgekom. Fourie sê oeste in hierdie stadium toon gelukkig geen skade nie.
Volgens Kempen Nel, VL se Letsemeng-streekverteenwoordiger, hoop boere in die Jacobsdal-omgewing vir nog drie weke sonder ryp sodat gewasse genoeg tyd het om droog te word.
Intussen waarsku dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, dat boere bewus moet wees van brandgevaar ná die ryp. “Die goeie reën van die afgelope seisoen het bygedra tot goeie veld- en groeitoestande. Die veld en veral lang gras langs die paaie hou egter ’n brandgevaar in.” waarsku Armour. “SANRAL het aangedui dat hul kontrakteurs eers vanaf 14 Mei die gras sal begin sny wanneer geen hergroei kan plaasvind nie.” sê Armour. VL moedig dus brandbeskermingsverenigings (BBV's) aan om hul strukture en toerusting in plek te kry.
Armour verduidelik ook dat die laat reën wat gedurende Desember en Januarie in groot dele van die Vrystaat voorgekom het en wat in sommige gebiede tot vloedskade gelei het, 'n invloed op plantdatums gehad het. “Baie boere se aanvanklike aanplantings is weggespoel of gekompakteer en moes later herplant word. Dit het 'n groot finansiële impak op boere. As ryp dus te vroeg voorkom en die laat aanplantings ook beskadig word, sal dit ’n groot slag vir hierdie boere wees.”
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
1Plasings
171Plasings
13Plasings
12Plasings