Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

Vrystaat Landbou diep bekommerd oor beurtkrag

deel hierdie plasing

17 Oktober 2019 

“Vrystaat Landbou (VL) spreek sy ernstige kommer uit oor die jongste vlaag van beurtkrag, want dit het onder meer groot negatiewe uitwerking op voedselsekerheid. Ons doen ook ’n beroep op die regering om die probleem ’n eerste prioriteit te maak en dit so gou moontlik aan te spreek.” Dit is volgens Francois Wilken, president van VL, nadat beurtkrag weer regoor Suid-Afrika ingestel is.

Hy meen boere en verskaffers bly aan die verloorkant en beurtkrag kan “katastrofiese gevolge vir voedselproduksie en die landbousektor hê”. Eskom het op 16 Oktober 2019 begin met die implementering van Fase 2-beurtkrag en is op 17 Oktober 2019 voortgesit.

Volgens Wilken is koring byvoorbeeld in 'n baie sensitiewe stadium wanneer dit by bestuiwing kom. “Boere wat gewasse spuit, word nou twee keer per dag aan beurtkrag blootgestel en dit het ’n potensiële negatiewe impak op die optimale groei van hul gewasse, veral in die huidige warm toestande wat in groot dele van die land heers.”

Wilken sê VL versoek die regering om hulle van politieke populisme te weerhou. Dit moet eerder verseker dat, in die lig van die enorme probleme wat Eskom met kragopwekking ervaar, ’n meer gematigde benadering tot onafhanklike kragverskaffers gevolg word.

“Hierdie verskaffers moet ook toegelaat word om die nodige elektrisiteit terug te sit in die kragnetwerk en so kan probleme aangespreek word.” Volgens hom blyk die huidige prosesse wat gevolg moet word om dit te bereik te ingewikkeld te wees.

“Die ekonomiese toestande in die land veroorsaak dat alle produsente negatief geraak word. Ongeag of beurtkrag plaasvind of nie, word infrastruktuurkoste steeds gehef. Maak nie saak of krag voorsien word of nie.”

Wilken sê ook die erge droogte, wat in baie dele van die land voortduur, dra ook by tot negatiewe sentiment.