Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL verwelkom strategie se verhoogde fokus op gemeenskapsbetrokkenheid en bekamping van georganiseerde misdaad

deel hierdie plasing

16 Oktober 2019

“Die kern van die hersiene Landelike Veiligheidstrategie (RSS) is om veiliger landbougemeenskappe te hê, maar dit kan net gebeur as almal betrokke is en ’n gesindheid van samewerking het.” Dit is volgens Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se landelike veiligheidskomitee.

Die hersiene RSS plaas 'n groter klem op samewerking en daarom versoek VL alle rolspelers om aktief aan misdaadbekamping deel te neem. Le Roux sê almal wat deur die strategie uitgelig word, moet saam met die georganiseerde landbou, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en ander departemente saamwerk sodat ’n “gesamentlike gemeenskapsbenadering” gevolg kan word.

VL verwelkom die RSS en versoek die SAPD om by die spesifieke tydlyne vir die implementering en evaluering daarvan te hou. Opleidingswerksessies, tussen die SAPD, SANW, georganiseerde landbou en ander rolspelers, moet ook op distriksvlak gehou word om die implementering daarvan te verseker.

Die hersiene RSS, wat baie veranderinge bevat, is op 11 Oktober 2019 in Makhado bekendgestel deur Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. Hierdie strategie, wat voorheen vier fokusareas gehad het, is nou op agt pilare gebaseer.

 

Vier bykomende fokusareas

Die eerste van vier bykomende fokusareas is om gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking van rolspelers te verhoog om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer. Dit sluit die skepping van privaat ondersteunde tegnologiese hulpmiddels in wat deur private of openbare vennootskappe verskaf word.

Tweedens, om regeringstelsels en wetgewing wat misdaad en veiligheid negatief beïnvloed, te verbeter en uit te brei. Verder, om 'n ontledingsproses oor georganiseerde misdaadbedreigings te implementeer wat groepe en sindikate wat betrokke is by landelike misdaad moet koppel en laastens die uitrol van die RSS kwartaalliks te monitor, dit elke drie jaar te evalueer en dit elke vyf jaar te hersien.

 

Monitering en implementering belangrik

Le Roux meen dit is belangrik dat die RSS op alle vlakke van samewerking gemonitor word en dit is waar tydlyne belangrik is. “Dit beteken dat daar binne ’n jaar of twee ’n aansienlike verbetering in kapasiteit, mannekrag en toerusting behoort te wees.”

Dit moet ook nie net 'n teoretiese dokument wees nie. “Eintlike implementering moet plaasvind, wat die implementering van kort- en mediumtermynstrategieë insluit.”

Groter samewerking by vergaderings van byvoorbeeld die prioriteitskomitee is belangrik en beter verhoudings moet tussen almal gebou word. “Daar moet ook nouer kontak en skakeling met die SAPD op alle vlakke wees, wat grond-, distriks-, provinsiale en nasionale vlak insluit,” sê Le Roux.

Die hersiene RSS bepaal ook dat verskeie ander aspekte volgens tydlyne aangespreek moet word, spesifiek teen Maart 2021.

Dit sluit in werkstudies om landelike veiligheidseenhede te vestig, die kapasiteit van bestaande veediefstaleenhede uit te brei en misdaadintelligensie behoort 'n groter rol te speel om skakels oor georganiseerde misdaad te vestig.

Die fokus van eiendomsmisdade moet uitgebrei word na diefstal van plaasimplemente en produkte en die onwettige jag met honde moet aangespreek word.

Die SAPD se kapasiteit, mannekrag en hulpbronne moet geprioritiseer word en private sekuriteitsmaatskappye en burgerregte-organisasies ingesluit. Verder is vinnige reaksiespanne en versterking van grensoperasies ook 'n prioriteit.

Wetgewing soos die nasionale Pond-wet, waarvan die implementering al jare lank sloer, moet ook gefinaliseer word.